Die Elandskraal-polisie in Limpopo is op soek na verdagtes wat glo in ‘n voorval van boendoegeregtigheid ‘n plaas aan die brand gesteek het. Die plaas behoort aan ‘n sakevrou wat saam met haar seun en twee neefs vasgetrek is, nadat ‘n man (35) glo van diefstal beskuldig is en as gevolg van aanranding in die hospitaal dood is.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê lt.genl. Thembi Hadebe het die opsporing van die verdagtes beveel.
Volgens rapportering het ‘n deel van die gemeenskap te Elandskraal in die Morarela-woonbuurt amok gemaak en na bewering die plaas wat aan die vrou behoort aan die brand gesteek.
Dit volg ‘n dag nadat sy, haar seun en twee familielede glo ‘n man (35) en sy vriend (32) van diefstal van bokke beskuldig, hulle ontvoer en aangerand het.
Die een man (32) is laat gaan en het die saak by die polisie gaan aangee. Die ander man (35) het egter in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Die vier verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem en vir ontvoering, aanranding met die opset om ernstig te beseer en moord aangekla.
Die brand het die plaasheining, hek, sinkhuis, ‘n wit Nissan-bakkie en ander eiendom beskadig. Die omvang van die skade in geldwaarde moet nog vasgestel word.
Die polisie is na die brandtoneel ontbied, waarna die gemeenskapslede van die toneel gevlug het.
‘n Soektog na die verdagtes is onmiddellik geloods.
“People should refrain from actions that may lead them into police cells, they should learn to trust Police capabilities as they are well trained to deal with crime related problems,” sê lt.genl. Hadebe.
Enigiemand wat die polisie met inligting kan bystaan kan die waarnemende stasiebevelvoerder, AO Victor Aphane by 082 469 0745 kontak.
Alternatiewelik kan Stop Misdaad by 08600 10111 of die naaste polisiestasie gekontak word, of van die MySAPS-toepassing gebruik gemaak word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



