Vusi Amos Zulu Malwane (44), ‘n oorgrensvoertuigsmokkelkoning, is tot altesaam 55 jaar tronkstraf gevonnis.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê genl. Fannie Masemola, die nasionale kommissaris van polisie, het die skuldigbevinding van die misdadiger wat gemeenskappe in Noord-KwaZulu-Natal geterroriseer het, verwelkom.
Hy het die volgende vonnisse ontvang:
Ontvoering – ses jaar
Roof met verswarende omstandighede – 30 jaar
Besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie – 15 jaar.
Mathe sê Malwane het vir meer as ‘n dekade ‘n sindikaat gelei wat agter ‘n vlaag motorkapingsvoorvalle in die Emanguzi- en omliggende gebiede gesit het. Hy sou die voertuie ná kapings oor verskeie grense in die provinsie na Mosambiek smokkel.
Hy het in 2014 uit wettige aanhouding ontsnap en is op 9 Mei 2023 weer deur die Emanguzi-oorgensoperasietaakspan wat deur die nasionale kommissaris ontplooi is om oorgrensmisdade, insluitend voertuigdiefstal, hok te slaan, in hegtenis geneem.
Genl. Masemola sê die taakspan lewer prysenswaardige vordering. Sedert hul ontplooiing vier maande gelede is 75 verdagtes in hegtenis geneem.
“Following our interventions and deployments to the area, 37 vehicles have since been recovered and 27 firearms recovered with 321 rounds of ammunition seized”, sê die generaal.
Bo en behalwe die 55 jaar vonnis is Malwane ‘n verdere vier jaar in die Ingwavuma-streekshof vir sy ontsnapping gevonnis.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



