Marlo (4) terminaal met kanker gediagnoseer

Deel hierdie storie / Share this story

Marlo Goosen (4) is terminaal met kanker gediagnoseer.

Marlo, by wie ‘n gewas gevind is nadat hy sedert Desember 2022 eers tandpyn en toe ook oorpyn ervaar het, se ouers, van wie mamma Marinet Janse van Rensburg ook met kanker gediagnoseer is, het nie goeie nuus ontvang nie.

Die gewas is in sy brein en hy kan nou net gemaklik gemaak word.

Hy sal uit die intensiewesorgeenheid na ‘n gewone saal oorgeplaas word, waar hy en sy geliefdes tyd saam sal spandeer.

Daar word versoek dat daar namens Marlo en sy familie in gebed getree sal word.

Lindie Nel, woordvoerder vir die ouers, het die boodskap op sosiale media geplaas, wat ook na FiND iT gestuur is:

Hi julle. Die is die moeilkste boodskap wat ek nog ooit in my lewe moes tik. Marlo is terminaal.
Die gewas is heeltemal in die brein in.
Hulle gaan hom uit ICU verwyder en in ‘n gewone saal plaas sodat almal wat nog ‘n tydjie saam hom wil spandeer dit kan doen.
Ons weet nie hoe lank ons nog saam met hom het nie.

Ek vra asb. om nou vir mamma, pappa, boetie en sussie en almal wat so na aan hom is te bid vir kalmte en vertroosting.

Moet asb. nie nou hulle kontak nie. Laat hulle net eers die nuus probeer verwerk.

Ons almal is vol vrae en hoekom en waaroms, maar met tyd sal ons sekerlik verstaan.

FiND iT het voorheen só berig:

Marlo Goosen (4), wat in Augustus vyf word, het reeds in Desember 2022 tandpyn begin ervaar.

Mamma Marinet Janse van Rensburg, ‘n enkelmamma, vertel hoopvol, maar emosioneel hoe die moedige kleuter reeds oor die afgelope maande pyn moes verduur totdat hy met ‘n gewas en eindelik met kanker gediagnoseer is.

“Dit is beslis kanker en toetse word gedoen om vas te stel of dit versprei het of nie. Op hierdie stadium is die goeie nuus dat dit dalk net stage 1 of 2 kan wees.”

Marlo het soos sy ma aan FiND iT vertel reeds sedert Desember van tandpyn gekla en het medikasie gekry wat die pyn verdoof het en dan was dit weg, maar het na ‘n ruk teruggekeer.

“Januarie het hy van tand- en oorpyn gekla. Ons is dokter toe en hy het voorskrifmedikasie gekry wat oordruppels, antibiotika en ‘n pynmiddel insluit. Nie lank hierna nie het die skool gevra dat ek hom met ‘pampoentjies’ by die huis moet hou.”

Nadat Marlo ten spyte van nog medikasie nie verbeter het nie en omdat hul huisdokter op verlof was, het Marinet hom na ‘n ander dokter geneem.

“Die dokter het bevestig dat hy nie pampoentjies het nie. Omdat hy nie beter geword het nie, is ons ‘n week later terug waarna ‘n sonar gedoen is. Daar is ‘n gewas opgemerk en saam met sy uitslae het daar gestaan dat hy beslis verdere mediese toetse moes ondergaan.”

Hy is na ‘n professor verwys en aangesien hulle nie aan ‘n mediese fonds behoort nie, is hulle na Steve Biko- akademiese hospitaal verwys.

“Ons is daarheen en het ‘n pediatriese chirurg gesien, maar die hospitaal se MRI-skandeerder was buite werking, waarna Marlo na Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg verwys is.”

Hy is op ‘n Donderdag 16 Maart 2023 opgeneem en die MRI-skandering is op ‘n Vrydag gedoen.

Marlo is ontslaan en hulle moes die Woensdag teruggaan vir uitslae. Met hul terugkeer is daar vir hulle gesê dat nog nie almal kans gehad het om sy uitslae te bestudeer het nie en hulle is weer huis toe. Die wag het twee weke geduur.

“In hierdie tyd het ek agtergekom dat Marlo se slaappatroon verander het. Ek het in Marlo se mond gekyk en gesien dat sy tong snaaks draai, asof hy na ‘n ander kant toe groei. Met hierdie ontdekking het ek een van die dokters se persoonlike assistent op 17 Maart 2023 begin bel. Inteendeel, ek het haar gereeld gebel omdat ek baie bekommerd was.”

Marinet sê Marlo wou nie eers meer sy gunstelingkos eet nie.

“Op 30 Maart kry ek ‘n oproep van die hospitaal en hulle sê ek moet Marlo baie dringend inbring.”

Hiedie heen en weer ryery van waar Marinet met haar kinders, (Marlo is nie die enigste kind nie), noord van Pretoria in Cullinan woon, is nie maklik nie. Die ander twee kinders moes skoolgaan terwyl sy en Marlo deurentyd heen en weer is.

En sê sy, alhoewel sy voorbereid was dat iets fout was, dit ‘n groot skok was toe sy die middag met die dokter gesels nadat Marlo nog ‘n MRI-skandering ondergaan het.

“Die dokter het gesê dit lyk nie goed nie en het aan my bevestig dat dit ‘n gewas is wat na binne groei. “

Die gewas is by sy hoofslagaar en daar was vrese oor chirurgie. Marlo is ‘n week gelede weer in Nelson Mandela-kinderhospitaal opgeneem en hy kon nog lag en praat, wat hy tans nie meer kan doen nie. Hy het toe nog geen kankerbehandeling, chemoterapie of radiasie ontvang nie.

Dit lyk asof die betrokke kinderhospitaal se onkologiedepartement toe kan wees. Die deure is met kettings en ‘n slot toegemaak.

“19 Mei is Marlo weer teater toe waar daar met ‘n kamera in sy lies gekyk is om agter te kom hoe die gewas gevoer word. Daar is gevind dat dit nie are is wat die gewas volgens vermoede voer nie en ‘n biopsie is voorgestel om te probeer uitvind wat presies die gewas is.”

Dus is Marlo op 22 Mei terug teater toe vir die biopsie en op 28 Mei ontvang hul die gevreesde diagnose: “Marlo het kanker!”

Omdat die tipe kanker, die fase (stage) waarin dit is of die behandeling wat dit behels nie telefonies bespreek kon word nie, moes Marinet die dokters weer gaan spreek.

Intussen het sy tydens haar gesprek met FiND iT op 29 Mei kommer uitgespreek oor die teenwoordigheid van ‘n knop in haar bors en genoem dat borskanker in haar familiegeskiedenis voorkom.

Alhoewel ‘n chemoport vir Marlo aangebring is, was geen behandeling toegepas nie en moes Marinet hoor dat haar kleuterseun na Johannesburg- algemene hospitaal oorgeplaas gaan word. Toe verlede Donderdag dus aanbreek en hy moet geskuif word, was daar egter ‘n reuse kommunikasieprobleem wat dit verhoed het, omdat almal nie van Marlo kennis gedra het nie. Daar was ook nie vir hom ‘n bed beskikbaar nie.

Maar omdat Marlo en Marinet van Pretoria is, is daar voorgestel dat hy eerder na Steve Biko- akademiese hospitaal moes teruggaan. Hulle wou hom egter nie die naweek ontslaan nie en om hom te vervoer, was ook nie eenvoudig nie.

“Hy moes per ambulans vervoer word, op geen ander manier nie, en daar is deur weldoeners ingespring om R8 000 bymekaar te kry om hom na Steve Biko- akademiese hospitaal te kan oorplaas,” sê Marinet dankbaar.

Soos voorgestel, is hy tans in Steve Biko- akademiese hospitaal opgeneem, maar is die kommer steeds daar dat skandeerders nie werk nie en dat daar nie warm water beskikbaar is nie.

“Marlo is gisteroggend deur die dokters gesien met die belofte dat hulle hom weer vandag sal sien, maar is daar gesê dat stage-4 kanker vermoed word.”

Intussen het mamma Marinet laat verlede week vir ‘n borsbiopsie gegaan, waarna borskanker Maandagoggend bevestig is.

Beide ma en seun het nie mediese fondse nie en beide moet vir verdere toetse en nodige behandeling gaan.

FiND iT het intussen die nuus ontvang dat Marlo vandag met chemoterapie begin het.

Marinet wil spesiaal dankie sê vir twee dokters – dr. A Bucher wat Marlo reeds vroeg by die hospitaal ingewag het en bereid was om so gou as moontlik met chemoterapie vir hom te begin. Asook dr. Vera van Balen vir Marlo se verblyfreëlings vir mamma, pappa of ouma wat by die hospitaal na Marlo moet gaan omsien.

Sy het ook verder dank aan ER24 en Netcare 911 betuig wat Marlo so vinnig vervoer het en hom so mooi hanteer het.

Enigiemand wat hulle wil help, kan na die Please Pray For Marlo Goosen and his mommy! Both with cancer Facebook-blad gaan en kyk hoe hulle ‘n bydrae kan lewer. Daar kan jy op hoogte van beide se gesondheid gehou word.

“Bid vir ons, asseblief hou aan bid vir my en Marlo,” het Marinet hoopvol afgesluit.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.