‘n Beweerde motorfietsdief (29) is eers in die vroeë oggendure in Welkom in die Vrystaat aangekeer, waarna die eienaar in Koppie Alleenstraat wakker gemaak en van die diefstal ingelig is.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die vermeende dief is deur lede van Welkom-honde-eenheid en Matjhabeng- munisipale sekuriteitsbeamptes, nadat hy van hul gevlug het, te voet aangekeer.
Die polisielede was besig met misdaadvoorkomingsdienste toe hulle sekuriteitsbeamptes wat naby ‘n motorfiets by ‘n motorfietswinkel in Janhofmeyerstraat staan, opgemerk het.
Voorlopige ondersoek dui aan dat die twee beweerde verdagtes die motorfiets op treinspore gestoot het en met dié wat hulle genader is, die hasepad gevat het.
Die sekuriteitsbeamptes het hulle agternagesit, waarna hulle een kon vastrek en aan die polisie oorhandig.
Die eienaar van die motorfiets, wat nie van die diefstal by sy woning bewus was nie, het ‘n saak van motorfietsdiefstal geopen.
Die verdagte sal op 19 Junie vir die vermoedelike besit van ‘n gesteelde motorfiets en diefstal van ‘n motorfiets in die Welkom-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



