Nie vir sensitiewe lesers nie: Taverneskietery – 15 beseer

Deel hierdie storie / Share this story

Yusuf Abramjee het die beeldmateriaal van ‘n skietery wat Sondag 11 Junie 2023 omstreeks 22:31 in Shoshanguve, noord van Pretoria, plaasgevind het, gedeel.

Hy sê 15 persone is tydens die insident beseer.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê 15 sake van poging tot moord word ondersoek.

Polisielede is na ‘n skiettoneel ontbied. Met aankoms is mense met skietwonde gevind en na ‘n plaaslike kliniek en hospitaal geneem.

Nevhuhulwi sê volgens inligting het een onbekende verdagte die taverne binnegegaan en sonder om ‘n woord te sê op die mense wat teenwoordig was, begin skiet.

Die motief vir die skietery is onbekend en geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak nie.

Intussen het die polisie ‘n beroep op sosialemediagebruikers gemaak om op te hou om die grafiese video van die taverne in Jukulyn aan te stuur.

‘n Span speurders van Rietgat- en Tshwane-distrik, gelei deur ‘n gesoute ondersoeker van die provinsie se eenheid vir ernstige en geweldsmisdade (murder and robbery unit), sowel as misdaadintelligensie, forensies en ander eenhede in die SAPD, is besig met die voortgaande ondersoek.

Die span het sonder ophou gewerk om die verdagte en die wegkomvoertuig te identifiseer. Die opsporing van die skieter en die betuurder van die voertuig is aan die gang.

Lt.genl. Elias Mawela het die skietery veroordeel.

“It is disheartening to see people that are enjoying themselves being targeted and attacked in this manner. The dedicated team of experts appointed has been instructed to leave no stone unturned in order to ensure justice for the victims,” sê Mawela.

Die direktoraat vir sigbare polisiëring by die Gautengse provinsiale kantoor het deur Partnership Policing en Social Crime Prevention met drankwinkeleienaars in gesprek getree om die kwessies van veiligheid en sekuriteit van klante te bespreek en om oplossings te vind vir geslagsgebaseerde geweld en ander misdaadverwante voorvalle wat by drankpersele plaasvind.

Enigiemand met inligting oor die skietery word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak of van die MySAPS-toepassing gebruik te maak.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.