Blessing Dintle Tladi (19), wat daarvan beskuldig word dat hy Lethabo Mojalefa Sibanda, nog ‘n leerling, Vrydag 2 Junie 2023 by die Rustenburg-busstaanplek doodgesteek het, is borg geweier.
Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder sê die Rustenburg-landdroshof het borg geweier.
Die beskuldigde sal in aanhouding bly vir verdere ondersoek in die saak en totdat die saak weer op 27 Julie 2023 in die hof voorkom.
FiND iT het op 4 Junie 2023 soos volg berig:
‘n Leerder (18) van ‘n skool in Rustenburg in Noordwes is Vrydag 2 Junie 2023 ongeveer 15:45 by die Rustenburg-busstaanplek dood.
Kapt. Sam Tselanyane sê die polisie het ‘n klagte van ‘n steek-insident ontvang.
Met aankoms op die toneel het polisie gemeenskapslede rondom ‘n lewelose liggaam wat met ‘n kombers bedek was, aangetref.
Voorlopige ondersoek het aangedui dat die oorledene met ‘n skerp voorwerp in die nek gesteek was.
Volgens omstanders was die oorledene ‘n leerling aan ‘n hoërskool in Rustenburg.
Hy was glo in ‘n argument met ‘n ander leerling van die skool betrokke wat ‘n groep leerlinge bymekaargekry het om die oorledene se groep aan te val.
Die groepe het na bewering by die busstaanplek bymekaargekom waarna die geveg uitgebreek en tot die steek van die oorledene gelei het.
Nog ‘n leerling wat ook tydens die insident gesteek was, is deur nooddienste na ‘n plaaslike hospitaal geneem.
Die 19 jaar oue verdagte het van die toneel gevlug.
Hy is later opgespoor en in hegtenis geneem.
Die verdagte sal na verwagting Maandag 5 Junie 2023 in die Rustenburg-landdroshof verskyn.
Die ondersoek duur voort.
Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale kommissaris, het polisielede vir die vinnige inhegtenisneming van die verdagte geprys.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



