Marconette Els (16) van Gordonsbaai in die Wes-Kaap se droom moet verwesenlik word nadat sy gekies is om die SA-troutrekspan later vanjaar in Switzerland te verteenwoordig.
Corné Els, Marconette se ma, het geweet geld is skaars en het ‘n plan beraam om die droom te ondersteun.
Saam met Linda Lemon (53) van Kolskoot Radio gaan Corné (52) vanaf 19 Junie 2023 binne 18 dae ongeveer 1 646 km op ‘n gerestoureerde 1964-Massey Ferguson-trekker aflê.
Vir hulle beteken die gesegde “‘n boer maak ‘n plan” dat ‘n vrou daardie plan gaan laat werk.
Hoe kan jy help om geld in te samel?
Jy kan ‘n kilometer teen R100 koop en die dames sal emalje-blikbekers op die pad verkoop.
Daar word ‘n beroep op plaaslike radiostasies, koerante en inwoners wat op hierdie unieke projek se beplande roete gaan wees om Marconette se droom te help verwesenlik en die dames op die roete te ondersteun.
Corné en haar man, saam met Linda, ry reeds die Donderdag voordat hulle met die trekkerrit begin na Krugersdorp waar hulle die Massey Ferguson kry om Kaap toe te ry.
Marconette se pa gaan saam vir bystand aan die twee uitsonderlike vroue en daar sal ‘n ondersteuningsvoertuig vir hulle beskikbaar wees.
“Die veterane-trekkerklub kry ons op sekere dorpies,” sê Linda.
Massey Ferguson is op bystand indien daar met die trekker sou foutgaan.
Marconette, wat gedurende die trekkerrit aan kompetisies moet deelneem, sal nie die hele rit meemaak nie, maar sy sal definitief volgens beplanning die trekker Klapmuts binnery.

Foto: Verskaf

Skakel elke oggend om 07:00 vanaf 19 Junie op Kolskoot Radio in om te hoor hoe die rit vorder.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



