Speurtakbevelvoerder se moord – twee in hof

Deel hierdie storie / Share this story

AO Johannes Cornelius du Rand, speurtakbevelvoerder van Villiers, is op 9 Junie 2023 doodgeskiet in sy Isuzu-bakkie gevind nadat hy inligting van ‘n gekaapte vragmotor opgevolg en op die grondpad tussen Villiers en Standerton sy stasie vir rugsteun gevra het.

Intussen is twee vermeende verdagtes vir sy moord in hegtenis geneem.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke, sê Fikile du Preez Ramotsoenyane (42) en Nkululeko Antonio (47) het op 12 Junie vlugtig in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn. Die klagtes teen hulle is besit van gesteelde eiendom, besit van polisie-uniforms en besit van ‘n ongelisensieërde vuurwapen en ammunisie. Hulle het later op dieselfde dag in die Frankfort-landdroshof vir die moord van AO Du Rand verskyn.

Mogale sê die twee is gedurende die naweek deur die Fezile Dabi-distrik se Trio-taakspan vasgetrek.

Ramotsoenyane is in ‘n huis in Vanderbijlpark, waar hy in besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig, ‘n Isuzu-bakkie met polisiemerke, polisie- koeëlvaste baadjies, polisie-uniforms en ‘n ongelisensieerde R5-geweer en ammunisie, gevind is. Antonio is Saterdag 10 Junie in Soweto in hegtenis geneem. Hul inhegtenisnemings volg op ‘n vlaag rooftogte wat in Cornelia, in die Vrystaat, gepleeg is. Dit sluit die kaping van ‘n vragmotor op die N3-hoofweg in.

Die saak is aan die Valke in Betlehem vir verdere ondersoek toegewys. Voorlopige ondersoek het die twee verdagtes met drie sake verbind wat teruggespoor word na AO Du Rand se moord.

Die saak is in die hof uitgestel tot 20 Junie sodat beide die beskuldigdes regsverteenwoordiging kan bekom.

Ramotsoenyane het op 12 Junie in Vanderbijlpark-landdroshof vir besit van gesteelde eiendom, besit van polisie-uniforms en besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen verskyn en sal weer op 19 Junie in dieselfde hof verskyn.

“The Provincial Head of Free State, Major General Mokgadi Bokaba commended the multi-disciplinary team led by the Hawks Serious Organised Crime for the success achieved in the arrest of the two suspects. Their tireless work over the weekend in bringing perpetrators to book is appreciated. The team will not rest until all perpetrators are brought to book,” sê Mogale.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.