Moord en verkragting van 82-jarige – veroordeelde twee keer lewenslank gevonnis

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vrou (82) is in die aand van 24 Februarie 2020 te Tweelaagte-woonbuurt, naby Mogwase in Noordwes, verkrag en verwurg.

Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG in Noordwes, sê Thapelo Abram Nkgweng (40) is in die hooggereggshof van Noordwes tot twee keer lewenslank vir die misdaad, wat tot die bejaarde vrou se dood gelei het, gevonnis.

Hy het die woning, wat alleen deur die oorledene bewoon was, deur ‘n venster binnegegaan en het nadat hy haar verwurg het, van die toneel gevlug.

Sy is leweloos deur haar tuinier en dogter gevind.

Met ondersoek het die polisie die verdagte deur vingerafdrukke met die misdaad verbind en hy is op 13 April 2020 in hegtenis geneem.

Hy is vir verkragting en moord aangekla, maar het op beide klagtes onskuldig gepleit.

Terwyl die uitslag van DNS afgewag is, is die saak voorlopig van die rol geskrap.

Later die jaar is die saak weer op die rol geplaas en DNS-toetse het Nkgweng as die oortreder uitgewys.

Ter verswaring van die vonnis het adv. Nangomso Goloda, die staatsaanklaer, in die hof aangevoer dat die misdaad teen die bejaarde onmenslik en wreed was. Die aanklaer het die hof versoek om nie van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf af te wyk nie.

André Peterson, die regter in die saak, het met die staatsaanklaer saamgestem en het die misdaad as skending van die bejaarde oorledene se privaatheid beskryf. Hy het ook verder oor die voorkoms van vrouemoord en geslagsgebaseerde geweld opgemerk en het ‘n beroep vir ‘n verenigde front gemaak om sulke gruwelike misdade te beveg.

Hy het die beskuldigde tot twee keer lewenslange tronkstraf op die aanklagte gevonnis en hom verder onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Dr. Rachel Makhari, die direkteur vir openbare vervolging en lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris van die provinsie, het adv. Goloda en sers. Dirang Mogorosi en ander rolspelers wat die inhegtenisneming van die beskuldigde bewerkstellig het, geprys terwyl hulle met die regter se opmerkings saamgestem het.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.