Die Ngqeleni-poskantoor in die Oos-Kaap is Woensdag 7 Junie 2023 net voor 12:00 beroof. ‘n Polisiesersant is in die rooftog raakgeskiet.
AO Majola Nkohli sê polisielede is na die toneel van die gewapende roof ontbied, waar ‘n groep swaar gewapende mans op hulle geskiet het.
Na bewering het ongeveer sewe verdagtes daarin geslaag om met ‘n onbekende bedrag kontant in ‘n wit Isuzu-bakkie van die toneel te vlug.
‘n Sersant wat in die onderlyf raakgeskiet is, is na ‘n hospitaal geneem.
‘n Saak van gewapende roof met poging tot moord as addisionele klag is geregistreer.
Die wegkom-voertuig is kort na die insident verlate in die Mabeshe-woonbuurt gevind.
Die polisie versoek enigiemand met inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei om met hul naaste polisiestasie kontak te maak.
Alternatiewelik kan inligting gedeel word deur van die Stop Misdaad 086 10111-nommer gebruik te maak.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



