Ma vry wat 20 j. tronkstraf uitdien vir ‘moord’ op kinders

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vrou wat eens as “Australië se ergste vroulike reeksmoordenaar” bekendgestaan het, is nou vrygelaat nadat sy 20 jaar verkeerdelik agter tralies deurgebring het.

BBC berig Kathleen Folbigg het vir 20 jaar ‘n vonnis uitgedien nadat ‘n jurie besluit het dat sy haar seuns, Caleb en Patrick, en dogters, Sarah en Laura, vermoor het.

‘n Onlangse ondersoek het egter aan die lig gebring dat die kinders aan natuurlike oorsake dood is.

Folbigg, wat nog altyd volgehou het dat sy onskuldig is, is in 2003 tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op haar kinders.

Die kinders is almal tussen 1989 en 1999 oorlede en was tussen die ouderdomme van 19 dae en 18 maande. Daar is beweer dat sy die kinders versmoor het.

Ondersoekers kon egter onlangs vasstel dat die sterftes aan seldsame genetiese mutasies verbind kan word.