‘n Vrou (51) is Maandag 6 Junie omstreeks 06:45 op ‘n plaas genaamd Turslaagte ongeveer 10 km van Schweizer-Reneke in Noordwes aangeval.
Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê die vrou se man, ‘n boer (52), het haar by die huis gelos om werkers in Ipelegeng te gaan haal.
Nadat hy vertrek het, het die honde in die huis begin blaf en die slagoffer het gedink dat hulle wou uitgaan. Toe sy die deur vir die honde oopmaak het twee verdagtes “die deur van buite oopforseer.”
Die slagoffer is vervolgens met ‘n yster oor die kop geslaan en die verdagtes is na die hoofslaapkamer. Hier het hulle glo kluissleutels geëis en twee rewolwers en ‘n 9 mm pistool geneem.
Terwyl die verdagtes die huis verder geplunder het, het die slagoffer daarin geslaag om die paniekknoppie te aktiveer en uit die huis te vlug. Sy het nie net daarin geslaag om uit die huis te kom nie, maar ook om die verdagtes in die huis toe te sluit, waarna sy na die bure toe is vir hulp en om die polisie te kontak.
Die twee verdagtes, Malawiese burgers, het na bewering voorheen op die plaas gewerk.
Boere van die omgewing het met behulp van ‘n helikopter en ‘n hommeltuig daarin geslaag om een van die verdagtes buite die huis in hegtenis te neem. Die tweede verdagte is steeds soek.
Alle gesteelde items is teruggekry.
Die verdagte wat in aanhouding is, sal binnekort op ‘n klagte van huisroof in die Schweizer-Reneke-landdroshof verskyn.
Die ondersoek duur voort.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



