Video’s aan onderkant van die berig
Die bestuurder van ‘n tenkwa, wat 40 000 liter petrol bevat het, het Maandagaand onherkenbaar verbrand toe hy op die N1 Hoofweg rigting noord naby Bothalaan in Centurion beheer oor die tenkwa verloor, dit omgeslaan en aan die brand geraak het. Video’s van die voorval is onmiddellik op sosiale media gedeel.
Thabo Charles Mabaso, woordvoerder vir Tshwane-nooddienste, sê oproepe is omstreeks 18:39 van die toneel ontvang.
“Brandbestryders kon die rook en vlamme kilometers ver sien en kon verskeie ontploffings hoor soos wat hulle die toneel genader het.”
Met aankoms op die toneel is gevind dat die tenkwa op sy sy lê en in vlamme gehul was.
Die brandbestryders saam met ander wetstoepassingsagentskappe en nooddienste het onmiddellik die pad N1 rigting noord en suid tussen Bothalaan en die R21/N1 Vlieënde Piering-interseksie vir verkeer toegemaak.
“Menslike oorskot wat geglo word die van die bestuurder van die tenker is, het onherkenbaar in die kajuit van die tenker verbrand,” het Mabaso gesê.
Tydens die insident het die petroltenkwa 40 000 liter 93 oktaan petrol vervoer.
‘n Omgewingsbestuurspraktisyn van die Stad Tshwane en ‘n skoonmaakmaatskappy is ook na die toneel.
Waterdreineringstelsels is toegemaak om die afloopwater van die brandbestrydingskuim, wat gebruik word om die brand deur twee waterlyne en en ‘n hoofstroom van ‘n industriële brandweerwa, te blus, te beheer.
Mabaso sê Tshwane het twee brandweerwaens, twee watertenkwaens, ‘n leer-voertuig (ladder truck) en ‘n mobiele beveleenheid saam met verskeie ondersteuningsvoertuie na die toneel gestuur.
Die toneel is aan die SAPD oorhandig om die ongelukstoneel te ondersoek.
Vir brand en reddingshulp tydens nood kan 107 tolvry of 012-358 6300 of 6400 gekontak word.
Vir mediese noodgevalle en ambulansbystand kan 112 gekontak word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



