Reaksiebeampte tydens val beseer

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Lid van Reaction Unit South Africa (Rusa) is beseer nadat hy vanoggend ongeveer 10 meter ver in ‘n onbeskermde uitgrawing in Canelands KZN geval het.

Reaksiebeamptes het omstreeks 03:00 reageer op ‘n oproep na ‘n toneel waar inwoners wat aan ‘n diensleweringstaking deelgeneem het, ‘n vragmotor begin plunder het.

Beampte Smangaliso Dlamini (28) het die situasie dopgehou toe hy in die uitgrawing, wat deur plantegroei bedek was, gegly het. Die Rusa-lid het ‘n besering aan sy skouer opgedoen. Weens sy besering kon hy nie uit die gat klim nie.

Brandbestryders van Ethekwini se brand-en-reddingsdienste en reddingstegnici van Medi Response-ambulansdiens het ‘n toustelsel opgestel voordat hulle in die uitgrawing afgesak het. Dlamini is gestabiliseer voordat die stelsel verwyder is. Hy is daarna per ambulans na die Netcare Umhlanga-hospitaal vervoer.