Cholera – twee gevalle in Noordwes bevestig

Deel hierdie storie / Share this story

Die gesondheidsdepartement in Noordwes het twee positiewe choleragevalle in die Bjanala-distriksmunisipaliteit van die provinsie bevestig.

Laboratoriumtoetsing is op twee mans onderskeidelik 38 en 68 jaar oud, van die Madibeng- en Morelete- plaaslike munisipaliteite uitgevoer.

Beide het simptome van naarheid en diarree ondervind.

Die departement maan die publiek om nie paniekbevange te raak nie, aangesien cholera voorkomend en geneesbaar is.

Persone wat simptome, met of sonder plaaslike of internasionale reisgeskiedenis, ondervind, word aangeraai om hul naaste gesondheidsfasiliteit te besoek.

Cholera is ‘n diarree-infeksie wat veroorsaak word deur die inname van voedsel of water wat met die bakterie Vibrio Cholerae besmet is.

Individue word gewoonlik 12 tot 48 uur na blootstelling siek.

Sommige van die algemene simptome sluit diarree, krampe, naarheid, braking en laegraadse koors in. Onder mense wat simptome ontwikkel, het die meerderheid ligte of matige simptome, terwyl ‘n minderheid akute waterige diarree met erge dehidrasie ontwikkel.

Dit kan tot die dood lei as dit nie behandel word nie.

Die departement versoek die publiek om ekstra voorsorgmaatreëls te tref en behoorlike handhigiëne te handhaaf, aangesien die land ‘n uitbreking van diareesiekte of gastroïntestinale infeksie ervaar en die aantal laboratorium-bevestigde gevalle van cholera toeneem.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.