CJ en Caylin, finaliste in vanjaar se Mnr. en Mej. Diamantveld-kompetisie, het met ‘n opwindende projek begin.
Volgens CJ het hy nie besef hoe groot die behoefte aan hulp in Kimberley is nie, terwyl Caylin aanvanklik nie geweet het wat om te verwag van die kompetisie nie – tot sy die eerste keer gesien het hoe klein gesiggies ophelder oor klein en eenvoudige goed soos ‘n drukkie, ‘n paaseier, ‘n kospakkie of ‘n handgebreide truitjie.
Die twee finaliste het besef dat behoefte nie eksklusief is aan een ouderdom of een rasgroep nie, wat hulle laat besluit het dat hulle meer kan doen en meer projekte kan aanpak om wyer ondersteuning aan behoeftiges te gee.
Vir hierdie doel het hulle hulle projek, “Sustain a Smile”, gestig. Hulle het onder andere reeds 150 kospakkies self gemaak en verskaf aan behoeftige kinders by Laerskool Diamantveld, die kindertjies by Destiny House ondersteun en ook borge verkry om met die behoeftes van die bejaardes by Ons Huis uit te help. Hulle het ook ‘n borg gekry om by te dra vir ‘n lewensnoodsaaklike suurstofmasjien vir ‘n dogtertjie.
CJ en Caylin se reis het hulle gelei na Droogtehulp, ‘n projek waarmee boere landswyd gehelp word. Caylin is eintlik ‘n swemmer en CJ ‘n rugbyspeler, maar hierdie twee het besluit om hulle fietse af te stof en hulle tyd af te staan om self deur die eksamen en Julie-vakansie hard te oefen sodat hulle span ongeveer 170 km grondpad op 15 Julie kan ry ten bate van Droogtehulp.
Burre Burger, die stigter van Droogtehulp, kom ry ‘n entjie saam met hulle. Kontak hulle gerus indien jy belangstel om hierdie hartsprojek te ondersteun of soek op iTickets vir “Sustain a Smile” om ‘n borgskap of donasie aanlyn te gee vir “Ride for a Reason”. Lootjies kan ook teen net R50 elk deur iTickets gekoop word waarmee ‘n Playstation 5 of a Garmin Vito gewen kan word.
CJ en Caylin voel dat niemand ooit te klein of te jonk is om ‘n verskil te maak nie, al is dit net om een lewe ten goede aan te raak. Hulle nooi die gemeenskap en besighede uit om nie net vir hulle nie, maar enige van die Mnr. en Mej. Diamantveld-finaliste te ondersteun, want al die finaliste se doel is dieselfde – om die gemeenskap te help.



