‘n Man is oor die naweek in Magaweni, KwaZulu-Natal, voor sy vrou en kind vermoor.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) is lede om 21:59 Saterdag na die moordtoneel ontbied waar hulle die man se lewelose liggaam aangetref het. Hy het verskeie skietwonde aan sy liggaam en sy kop gehad.
Volgens sy vrou het hulle ‘n klop aan die deur gehoor. ‘n Man, wat homself as polisiebeampte voorgedoen het, het glo toegang tot die huis gevra. Die egpaat het geweier om die deur oop te maak en die verdagtes het hulself by die huis inforseer. Hulle het glo geld geëis en toe die slagoffer volhou dat daar nie geld is nie, het hulle hom geskiet.
Die verdagtes het die kamers deursoek en het met ‘n onbekende som geld gevlug.
Die vrou en die kind is nie beseer nie.



