Kyk video’s: Familiebesigheid brand af toe daar ingebreek word

Deel hierdie storie / Share this story

Video’s in berig.

CvHoutwerke, ‘n bekende familiebesigheid in Kimberley, het Maandagoggend 22 Mei 2024 omstreeks 04:00 afgebrand.

Nicoline Visser vertel dat sy 04:00 reg gemaak het om te gaan gym.

“Ek was net op die punt om teen 04:45 te ry toe iemand teen die pallisade-heining kap en sê daar is ‘n brand.”

Sy het haar ouers wakker gemaak, waarna sy en haar pa werk toe gejaag het.

“Toe ons daar kom was die brand reeds ‘n geruime tyd aan die gang en alles was in vlamme gehul.”

Nicoline sê dat niks van die besigheid of gereedskap gered kon word nie.

“Die brandweer was gekontak en na die brand onder beheer was het hulle met ons kom praat en gesê dat daar ‘n inbraak op die perseel was. Die inbrekers het om een of ander rede vuur gemaak en dinge het skeefgeloop, of die besigheid is met opset afgebrand.”

Nicoline, wat hartseer is oor wat met die besigheid gebeur het, sê dat dit haar ouers se brood en botter was.

“Ek weet eerlikwaar nie waar om te begin nie. Die besigheid bestaan al sedert 2008.”

Sy vertel dat haar pa vir hulle gesê het dat hy net na skool met houtwerk begin het.

“My pa het vir iemand anders gewerk voordat hulle CvHoutwerke begin het.”

“Ek onthou die dae wat ek en my broer na-ure ‘touchies’ of wegkruipertjie in die werksplek gespeel het.”

Volgens haar het van die ander houtwerkplekke toegemaak en dit was die geleentheid wat haar ouers met hul eie besigheid aangegryp het.

“Die besigheid het goed gedoen. Kliënte was tevrede en die besigheid het wins gemaak.”

Nicoline sê dat haar pa egter ‘n paar jaar gelede eers Bell’s verlamming gekry het.

“Hy het goed herstel en moes vir ‘n heupvervangingsoperasie gaan toe hy met kanker gediagnoseer word. Hy het vir chemo gegaan en was kankervry. Ongeveer ‘n jaar gelede moes hy vir die ander heupvervangingsoperasie gaan en daarom het ons nie versekering in plek gehad nie.”

Met alles wat so skielik en onverwags met hulle gebeur het, vertel sy dat haar pa nie meer die energie van voorheen gehad het nie.

“My broer het ingespring om te help en het sy werk as plaasbestuurder bedank om ons ouers te help om die besigheid te bestuur.”

“Ek wil graag my ouers help, al is dit net om hulle weer op hul voete te help sodat hul weer die besigheid kan begin.”

Nicoline het ‘n Backabuddy-profiel vir haar ouers geopen en vra dat enigeen wat haar kan help om haar ouers te help die blad moet besoek.

Volg die skakel hier.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.