Tienermeisie (13) sterf na sy en vriende deodorant-gas inasem ‘om hoog te word’

Deel hierdie storie / Share this story

Die ouers van die 13-jarige Esra Haynes moes onlangs die moeilike besluit neem om hulle dogter se lewensondersteunende masjiene af te skakel nadat sy by ‘n oorslaappartytjie oor Paasnaweek onomkeerbare breinskade opgedoen het.

Haynes, van Melbourne in Australië, het ‘n nuwe trend op sosiale media, chroming, by die oorslaappartytjie probeer. Chroming behels om die gasse uit ‘n blikkie deodorant in te asem om “vinnig hoog te word”. Haynes het ‘n hartaanval gekry.

Haar ouers, Paul en Andrea, is totaal platgeslaan en sê hulle het haar dood nie verwag nie.

“Dit was maar wat sy gewoonlik gedoen het – tyd saam met haar maats deurgebring,” sê Andrea aan plaaslike media. “Ons het altyd geweet waar sy is en saam met wie sy was, Dit was niks buitengewoon nie.”

Nadat Haynes na die hospitaal gejaag is, het dokters na ‘n week gesê haar brein is “onomkeerbaar beskadig”, en haar familie het die besluit geneem om die masjiene af te skakel.