Nóg ‘n ongeluk wat skoliervervoer insluit

Deel hierdie storie / Share this story

Die departement van onderwys in Mpumalanga het skok uitgespreek oor ‘n ongeluk wat gisteroggend tussen ‘n bus wat skoliere vervoer het en ‘n minibustaxi naby Acornhoek op die R40 plaasgevind het.

Na bewering het die minibustaxi ‘n voertuig verbygesteek toe dit kop-aan-kop met die bus wat leerders van Tsakane Special School vervoer het, bots.

Leerders wat tydens die botsing in die bus was is met geringe beserings na Tinswalo-hospitaal geneem waar hulle behandel en ontslaan is.

Die busbestuurder ontvang steeds behandeling. Die bestuurder van die minibustaxi het aan sy beserings gesterf en is op die toneel dood verklaar.

Sasekani Manzini, waarnemende premier en Bonakele Majuba, die LUR vir onderwys, besoek die skool vandag om ‘n gedetailleerde verslag te kry en sal ook die bubestuurder in die hospitaal besoek.

Die departement het amptenare van inklusiewe onderwys en welstand ontplooi om berading aan die geaffekteerde leerders en personeellede by Tsakanse Special School te gee.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.