‘n Minibustaxi-bestuurder is Woensdag 17 Mei 2023 vir beweerde gewapende roof in Casseldale, Springs, aan die Oos-Rand, in hegtenis geneem.
Blue Hawk Tactical-sekuriteitsdienste het die betrokke dag omstreeks 12:17 ‘n oproep van ‘n besigheidseienaar ontvang wat gerapporteer het dat ‘n gewapende roof voor sy besigheid plaasgevind het.
Met aankoms by die adres het ‘n vrou reaksiebeamptes meegedeel dat sy na bewering deur twee gewapende verdagtes van R17 000 beroof is.
Sy het die een verdagte as ‘n persoon wat glo vroeër in die besigheid was geïdentifiseer.
Die slagoffer het voorts verduidelik dat sy weet waar die verdagte, wat ‘n taxi-bestuurder is, hom moontlik kan bevind.
Sy is dadelik na die adres toe vergesel. Reaksiebeamptes het ‘n EMPD-eenheid van die voorval verwittig.
Die man, wat as die beweerde verdagte geïdentifiseer is, is waar hy in die taxi gesit het, genader.
EMPD het hom vir beweerde bewapende roof in hegtenis geneem en na Springs-polisiestasie geneem.
Hy is deur Springs-polisie in hegtenis geneem en beslag is op die minibustaxi gelê.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



