Marno van der Merwe (38) het sy nuwe liedjie bekendgestel.
Die liedjie heet Uit My Lyf.
Leozelle Bekker van Universal Music South Africa sê in ‘n verklaring dat hy ‘n gevestigde naam in die vermaaklikheidsbedryf is, wat talle verhoog-, TV- en fliekrolle op sy kerfstok het.
Indien jy hierdie sanger herken sal dit nie vreemd wees nie omdat hy ook ‘n akteur, vervaardiger en liedjieskrywer is.
Musiek is een van Marno se grootste passies.
“Marno het al bekende Afrikaanse treffers geskryf en onder andere was hy medeskrywer op Riaan Benade se liedjies ‘Vat ‘n Bietjie’ & ‘Rowwe Bl*ksem’, maar hierdie keer skryf hy en Riaan Benade ‘n treffer vir homself.”
Almal het al iemand gehad wat hulle voel hulle nie uit hulle lyf uit kry nie, soos ‘n verslawing. Jy dink dag en nag aan daardie persoon en al julle herinneringe saam. Dit is waaroor die liedjie gaan.
“Ek dink dis eerlik en dink dis bietjie anders as wat tans in Afrikaans is. Ek glo dit sal mense dadelik herinner aan iemand.”
“Oor die musiekvideo wil ons nie te veel weggee nie, net dat dit iets anders is waaraan die Afrikaanse musiekbedryf dalk nie gewoond is nie, maar dat dit soms ook ‘n goeie ding is. Die konsep gaan oor iemand wat gemartel word deur dit wat hy nie genoeg van kan kry of mee kan ophou nie.”
Marno het in Rustenburg in Noordwes grootgeword waar sy pa ‘n boer was en sy ma ‘n besigheidsvrou is.
Hy wou van kleintyd mense met sang, dans en toneelspel vermaak en op die ouderdom van 10 kon hy dromme bespeel, waarna hy homself geleer het om kitaar te speel.
“Tydens sy hoërskooldae het hy lofprysingsdienste by verskeie kerke in sy tuisdorp gelei.”
Marno wat in sport uitgeblink het, het ook ‘n droom oor professionele rugby gehad en en indien hy ‘n ander loopbaanrigting moes neem sou die besluit beslis een van sy sport-gunstelinge, rugby, krieket, golf of tennis gewees het.
“Ek hou van kompeteer en die dissipline wat sport mens laat uitoefen. Die harde werk en die oorwinning.”
Volgens Leozelle het Marno provinsiale kleure in perdry verwerf, eersteliga klubrugby vir die Valke gespeel en ’n wapenbemeesterskursus voltooi.
Marno het opleiding in Brümilda van Rensburg se “Stagedoor” Toneelspelskool ontvang.
“Nadat hy A.C.T.S ontvang het, het Marno voortgegaan om op te tree in produksies soos Janice Honeyman se Robinson Crusoe, Haweloos, Party Police, Kids Rock, Spotlight, Dance Some More, Houtkruis, James Bond, The Spieël en ek, Alles oor liefde en Spesiale ster.”
Marno het ook in 2011 ‘n gashoofrol in Deon Opperman se produksie van Hartland gehad.
“Sy filmkrediete sluit onder meer Longshot, Pretville en Die Ballade van Robbie de Wee, in. Hy was verder ook mede-skrywer en regisseur van die TV-fliek Uit Die Kaskenades.
In 2015 het hy die hoofkarakter Dillon Pretorius in die SABC3-dramareeks Roer Jou Voete vertolk, as ‘n talentvolle jong danser wat ‘n nare Johannesburgse dwelmbaas word en ontdek dat sy enigste hoop om te oorleef ‘n Latynse en Baldansskool in ‘n vergete Karoodorp is.
In 2016 was hy gasheer in kykNET-werklikheidskompetisiereeks Varsity Sing, waarin Suid-Afrika se topkore in ’n uitklopformaat meegeding het om as die beste universiteitskoor gekroon te word.
“In Sean Else se dramatiese 2016-fliek, Modder en Bloed, het hy die karakter JJ Ratel Wessels vertolk.”
“Ek is baie trots op dié fliek,veral omdat ek nog altyd graag in ‘n geskiedkundige storie wou speel. Dat die fliek boonop iets van ons eie geskiedenis vertel, maak dit net ‘n groter bonus.”
Sy nuutste rol was in Netflix se eerste Afrikaanse reeks met die naam Ludik.
“Verder is Marno ‘n besigheidsman met ‘n paar besighede wat hy bestuur, waarvan een ‘n bemarkings en events besigheid is.”
Vir meer inligting oor die kunstenaar kan daar met Leozelle Bekker by [email protected] in verbinding getree word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



