Dikgang Edward Lebetsa (38) het na bewering Saterdag 13 Mei 2023 sy vrou (36) by hul huis in A-Section in Botshabelo, Bloemfontein, probeer doodmaak.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê na bewering het die twee alkohol gedrink waarna ‘n argument oor vermiste kontant in die huis ontstaan het.
Die verdagte het glo sy vrou aangerand waarna sy geval het en is die huis uit om ‘n houer met petrol te kry waarop hy weer die huis in is.
Hy het glo sy vrou met petrol deurdrenk en aan die brand gesteek, maar sy kon daarin slaag om die vlamme met ‘n emmer water te blus. Hy is hierna na bewering die huis uit en het haar binne toegesluit en glo geweier dat sy mediese hulp ontvang.
Sy kon glo eers die volgende oggend daarin slaag om te ontsnap waarna sy vir mediese hulp na ‘n plaaslike hospitaal toe is.
Botshabelo-polisie het ‘n saak van poging tot moord geregistreer.
Lebetsa is in hegtenis geneem en het in Botshabelo-landdroshof verskyn waarna die saak tot 25 Mei 2023 uitgestel is.
Hy bly in aanhouding.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



