‘n Ma en haar kinders is Dinsdag ernstig beseer nadat ‘n bus die voertuig waarin hulle gery het, gestamp het.
Nooddienste het omstreeks 16:00 op die toneel op die M43 in die Boksburg-omgewing, Suid van Johannesburg, gereageer, berig Emer-G-Med.
Twee kinders onder die ouderdom van 12 is buite die voertuig gevind, terwyl ‘n volwasse vroulike bestuurder vasgevang in die wrak gevind is.
Een van die kinders is in ‘n kritieke toestand gevind en is op die toneel behandel en gestabiliseer voordat die kind op ‘n meganiese ventilator geplaas is en per ambulans na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas is vir verdere sorg.
Die tweede kind het matige beserings opgedoen en is op die toneel behandel en gestabiliseer voordat ‘n familielid die kind huistoe geneem het.
Die volwasse vrou het kritieke beserings opgedoen en ‘n besluit is geneem om haar met die hulp van die Netcare911-lugmediese helikopter na ‘n spesialisfasiliteit te vervoer vir die definitiewe sorg wat sy benodig.
Die oorsaak van die botsing is onbekend en sal die onderwerp van ‘n Suid-Afrikaanse Polisiediens-ondersoek vorm.



