Bejaarde vrou konfronteer haar man se aanvallers

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vrou (60) het vroeër vandag, Saterdag 13 Mei 2023, drie mans wat haar man (75) tydens ‘n huisroofpoging in Maple Drive in Trenancepark, KwaZulu-Natal met ‘n mes gesteek het, gekonfronteer.

Reaction Unit South Africa het omstreeks 12:21 ‘n oproep vir bystand ontvang.

Reaksiebeamptes en paramedici is onmiddellik uitgestuur.

Met aankoms op die toneel is ‘n bejaarde man gevind waar hy op ‘n stoel in die tuin sit. Hy het ‘n steekwond aan sy rug en regterhand opgedoen. Voordat nooddienste op die toneel aangekom het, is noodhulp deur ‘n buurman toegepas.

Daar is vasgestel dat drie mans na bewering die erf binnegekom het en die man wat besig was om ‘n maaltyd buite op ‘n vuur voor te berei, aangeval het.

Sy vrou wat in die huis was, het uitgekom en gesien wat gebeur. Gewapen met ‘n kombuismes het sy die rowers genader. Een het haar tot op die grond gedwing voordat hulle ‘n Nokia-selfoon gegryp en deur ‘n digte bos aan die oorkant van die huis gevlug het.

Die vrou is nie beseer nie.

Haar man is op die toneel behandel en vir verdere mediese hulp met ‘n ambulans na die hospitaal vervoer.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.