Twee vas vir beweerde besit van landbougif met ‘n waarde van R436 000

Deel hierdie storie / Share this story

Twee verdagtes, beide 40 jaar oud en van Monyakeng in Wesselsbron, is Donderdag 11 Mei 2023 omstreeks 17:15 vir die besit van landbougif wat vermoedelik gesteel is, in hegtenis geneem.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê lede van misdaadintelligensie, Welkom OOP, Odendaalsrus veediefstal en bedreigde spesie eenheid het inligting ontvang dat gif op ‘n Nissan 1 Ton bakkie met ‘n sleepwa gelaai is en in die rigting van Welkom op pad was.

‘n Intelligensie-gedrewe operasie is uitgevoer.

Omdat daar glo ‘n koper vir die gif in Welkom was, het die span hulle op die Odendaalsrus-/Wesselsbronpad ingewag.

Die bakkie wat by die beskrywing van die inligting pas, is opgemerk en gestop, waarna ‘n versoek gerig is om die bakkie te deursoek.

Terwyl lede besig was om die bakkie te deursoek, het hulle op 95 x 20 liter dromme vol Round Up-gif afgekom. Die bestuurder van die voertuig kon glo geen geldige dokumente vir die gif voorsien nie.

Die bestuurder van die bakkie is versoek om die polisie na sy woning te vergesel waar ‘n bykomende 14 X 20 liter dromme vol Round Up-gif glo versteek gevind is.

Die polisie het op die gif met ‘n geskatte waarde van R436 000, asook die bakkie en sleepwa, beslag gelê.

Beide die verdagtes sal binnekort in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.