Konst. Tsipo Samuel Matlala van Mangaung Sigbare Polisiëring is Woensdag 10 Mei 2023 in hegtenis geneem vir 12 aanklagte wat afpersing, poging tot afpersing, diefstal en regsverydeling, insluit.
Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die konstabel wat homself aan die verkeerde kant van die wet bevind het, is deur die provinsiale anti-korrupsie-eenheid in hegtenis geneem. Hy het vandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.
Na bewering het die verdagte drie van sy kollegas wat veldopleiding gedoen het genader en voorgegee dat daar ‘n saak teen hulle is en dat hulle hul werk sou verloor. Al drie het die konstabel R10 000 elk op versoek betaal vir die sake teen hulle, om weg te gaan.
In ‘n ander voorval het hy nog ‘n kollega genader en glo vir haar gelieg en ook gesê dat daar ‘n saak teen haar geopen is wat deur OPOD ondersoek sal word en dat sy haar werk sal verloor. Hy het haar afgepers en ook R10 000 ontvang om die saak te laat weggaan.
In ‘n onverwante saak het hy ‘n bestuurder van ‘n voertuig wat in ‘n ongeluk betrokke was waar passasiers ernstig beseer is genader en vir die persoon gesê dat ‘n voetganger raakgery en gesterf het en dat ‘n moordossier teen hom ondersoek word. Hier het hy ook R10 000 versoek en ontvang en belowe dat die saak sal verdwyn.
Nog klaers het na vore gekom en nadat die konstabel van die bewerings teen hom bewus geword het, het hy na die klaer van die ongeluk gegaan en belowe hy sal die geld teruggee.
Op 10 Mei 2023 het hy die klaer gebel om hom te ontmoet om die geld aan hom terug te gee. Die konstabel is ter plaatse in hegtenis geneem en die polisie het op die kontant beslag gelê.
Matlala bly in aanhouding tot wanneer sy saak weer op 18 Mei 2023 in die hof moet verskyn.
Lt.genl. Baile Motswenyane, die provinsiale polisiekommissaris in die Vrystaat, het die in hegtenisneming van die konstabel verwelkom.
Lede van die anti-korrupsie-eenheid is geloof vir hul toewyding om die arrestasie van sy eie werknemers vir sy betrokkenheid by kriminele aktiwiteite te verseker.
Sy het herhaal dat oneerlikheid deur werknemers nie geduld sal word nie, aangesien dit die beeld van die Diens skaad.
“Ons moet almal gedryf word deur wat in ons Gedragskode vervat word as lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens,” het sy gesê.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



