Kyk die musiekvideo: Ontmoet ‘Die Piesangskille’

Deel hierdie storie / Share this story

Die Piesangskille bestaan uit twee lede, genaamd Daniël Francois Marais en Johan Balt, twee 20-jarige studente van NWU se Potchefstroom-kampus wat onderskeidelik BCom Besigheidsbestuur en LLB studeer.

FiND iT wou ook dadelik weet waar die ongewone naam vandaan kom, waarop Daniël verduidelik dat hulle een dag in die “vierkant” gesit en musiek skryf het toe hulle besef het hulle het ‘n volwaardige band en het ‘n naam nodig.

‘n Piesangskil het in die “vierkant” gelê en so word die twee eers “Die Piesangskillers” wat later na “Die Piesangskille” verander is.

FiND iT het ‘n paar vinnige vrae gevra wat soos volg beantwoord is:

  1. Wie is die talentvolste tussen julle? – Johan, omdat hy ‘n instrument kan bespeel.
  2. Wie het die beste smaak en styl? – Daniël, want Johan sal as hy kon, heeltyd in ‘n kortbroek en plakkies wou geloop het.
  3. Wie vat die langste om klaar te maak? – Daniël, want hy doen meer moeite.
  4. Wie is aan sy foon vasgeplak? – Daniël, want hy tref die meeste reëlings en Johan se foon is altyd pap.
  5. Watter sê-ding word die meeste deur julle gebruik? – “Op die ou einde van die dag is dit nag.”
  6. Wie gaan eerste trou? – Johan, Daniël vermoed hy het dalk moontlik reeds die één ontmoet.
  7. Wie bestuur die beste? – Daniël.
  8. Wie se senuwees knaag die meeste voor ‘n optrede? – Daniël.
  9. Wie neem die meeste van die besluite? – Daniël.
  10. Wat was die snaaksste oomblik wat julle al saam beleef het? – “Ons het in Rustenburg by die Tarentaalteater opgetree. Ons het vir ‘n uur en ‘n half net vir die klankman opgetree, omdat niemand opgedag het nie.”

Daniël se raad is: “Indien jou hart gebreek is, begin ‘n band.”

Dit is natuurlik hoe die twee begin het, Daniël se hart is deur ‘n meisie gebreek en omdat Johan kitaar kan speel, het hy hom gevra dat hulle ‘n liedjie moet skryf.

Die twee het natuurlik hul liedjies op ‘n dameskoshuis uitgetoets: “Die eerste aand het so twee liggies aangegaan en die tweede aand darem 10.”

Daarna is die twee gevra om by die koshuis se kaas-en-wyn op te tree.

Hulle het in Augustus 2022 begin, het einde Januarie 2023 ‘n kontrak met Universal Studios SA geteken vir twee albums en het tans al sewe liedjies vir ‘n album wat aan die kom is.

Op ‘n vraag of Daniël se hart darem al geheel het, is sy antwoord: ” Elke girl word nou ‘n song,” en dan verduidelik hy dat hulle tans baie besig is.

Hulle het nie hul studies opgeskop nie, maar het ‘n goeie balans tussen die musiek en die studies. “Universal ondersteun ons baie goed.”

Dan vertel Daniël hoe hulle raakgesien is. Hy het in ‘n koffiewinkel in Potchefstroom gewerk en daar was gereelde kliënte wat weekliks die koffiewinkel besoek het. Hy het eendag trompop gevra wat hulle doen. Dit was Johan Viljoen wat deel is van die groep “Glaskas.” Daniël het hom van “Die Piesangskille” vertel en Johan se raad was om nooit hul naam te verander nie. Hulle het hul eerste song in akoestieswe weergawe by Johan opgeneem.

“Mal Maandagaande” verduidelik Daniël: “Gaan beslis nie oor ‘n meisie nie. Dit was nadat ons die Maandagaand ‘n optrede gehad het en die Dinsdagoggend wakker geword het, wat die liedjie gebore is.”

Hulle voel baie bevoorreg met hul sangloopbane en al die goeie wat daaruit gekom het, soos die kontrak met Universal Music SA en om saam met Roux Cloete te kan werk, wat al vir menige kunstenaar treffers opgelewer het.

Die twee wil net hulself wees en positiwiteit oordra.

En ja, hul families hou van wat hulle doen en die boodskap wat hulle uitdra: “Maak ‘n verskil, ‘n piesangskil verskil.”

Lees Universal Music SA se mediaverklaring hier:

Ontmoet Die Piesangskille, ‘n random band van Potch
Die Piesangskille is seker een van die mees belowende jong opkomende
groepe in ons land. Die groep bestaan uit Daniël Francois Marais & Johan
Balt wat mekaar in Potchefstroom ontmoet het waar hulle tans albei studeer.
Vandag stel Die Piesangskille hulle heel eerste enkelsnit en musiekvideo, Mal
Maandagaande, vry vanaf hulle opkomende album Almal Gly en dit gaan
julle behoorlik terugvat in tyd en jou laat voel of jy weer ‘n student is.
“Die inspirasie van die liedjie is in die naam, want dis maar presies hoe ons op
dit afgekom het na ‘n mal Maandagaand. Dit is een van die liedjies met
minder betekenis maar tog ‘n positiewe vibe. Dit is lig en snaaks en ons dink
mense gaan dit geniet. Dit gaan oor hoe dit is om ‘n student te wees”

“So, ons wou meer van die dorp, die studente en natuurlik die mal
Maandagaande uitbeeld. Die boodskap van die video is eintlik net wees
jonk, wees jouself en geniet jou tyd op universiteit terwyl jy kan, want dis eintlik
baie kort”
Die Piesangskille se motto is:
Moenie jouself te ernstig opvat nie en vergeet van wat mense van jou dink.
Kyk na die musiekvideo hier – https://youtu.be/icMUlJBzRt0
Meer oor Die Piesangskille
Daniël Francois Marais
Daniël Francois Marais kom van Kimberley af, en is tans ‘n tweedejaar
student wat bemarking studeer aan die NWU Potchefstroom-kampus.
Ettienne Steyn is een van sy gunstelingkunstenaars en hy sal daarvan hou om
eendag saam met hom te skryf net vir die feit dat Daniël baie betekenis vind
in sy musiek.
“Ek love die idee dat ek ‘n storie kan oorvertel in terme van musiek en dis ook
vir my baie makliker om ‘n liedjie te skryf as dit oor iets gaan wat met my
persoonlik gebeur het.”
Daniël sou graag in eiendom wou ingaan as hy iets anders kon kies omdat
die koop en verkoop van eiendom baie lekker vir hom lyk en hy beslis ys aan
‘n Eskimo kan verkoop met sy persoonlikheid.
‘n Kunstenaar wat hom inspireer om te skryf, is Deon Meiring, net oor sy manier
van skryf en sy stories oordra in musiek. Hy is ook vir hom ‘n inspirasie omdat
hy al so baie musiek geskryf het, maar ook sy gedigte en briewe wat hy altyd
op Instagram deel.
Johan Balt:
Johan Balt kom van Knysna af en het by Hoër Landbouskool Oakdale skoolgegaan. Hy is deel van ‘n drieling en hy en sy twee susters het ‘n wye skuif
gemaak vanaf die Wes-Kaap om in Potch te gaan studeer. Sy voorliefde vir
musiek kom van sy oupa af wat hom geleer het om kitaar te speel.
Johan is tans ‘n tweedejaar LLB-student op die NWU Potchefstroom-kampus.
“Ek geniet dit baie om LLB te swot, want dit is eerstens baie interessant, en dit
laat jou op jou voete dink.”
Johan persoonlik hou baie van Country, Rock en Alternatiewe musiek. Dit is
wel ‘n vreemde kombinasie, maar tog luister hy eintlik maar enige tipe
musiek.
“Ek is nog baie nuut in die musiekbedryf en het nog eintlik baie min
ondervinding & die grootste uitdaging op die ou einde is seker maar die feit
dat ek voor mense moet sing as ek in ‘n band wil wees, maar ek het die
laaste jaar besef dat dit eintlik so lekker is en nie so erg is soos wat ek gedink
het dit gaan wees nie”

VIR MEER INLIGTING OOR DIE KUNSTENAAR, KONTAK
[email protected]

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.