Solidariteit het die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wetsontwerp) Vrydag tydens ʼn openbare konsultasie verwerp en sy misnoeë teenoor die regering uitgespreek. Hierdie stap in die openbare deelnameproses volg ná die parlementêre voorleggings in November 2022 waaraan Solidariteit ook deelgeneem het.
Solidariteit voer aan dat die voorgestelde wysigingswetsontwerp in sy huidige formaat sentralisering van onderwys in Suid-Afrika tot gevolg sal hê. By implikasie beteken dit dat die magte van beheerliggame in skole geminag word. Taal- en toelatingsbeleide word hierdeur beïnvloed, wat Afrikaanse skole ʼn direkte teiken van hierdie magsug maak.
“Ons hoor en sien daagliks die openlike vyandigheid teenoor Afrikaanse skole en hulle reg op bestaan. Daar is ʼn aktiewe aanslag teen moedertaalonderrig selfs al hou hierdie aanslag negatiewe gevolge vir onskuldige kinders in,” het Johnell van Vollenhoven, beleidsontleder by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gesê. “Dié wysigingswetsontwerp poog om die magte van ouers en beheerliggame weg te neem. Op hierdie wyse kan hulle vrylik húl ideologie as deel van daaglikse opvoeding in ons skole implementeer en werklik elke Afrikaanse skool binne slegs ʼn paar jaar ver-Engels.”
Volgens Solidariteit poog die Bela-wetsontwerp om skole te laat terugkeer na die verouderde staatskoolmodel. Die regering wil só die gemeenskap en veral beheerliggame se rol verklein en alle mag sodoende opwaarts laat wentel. Hierdie verandering is teenstrydig met die Suid-Afrikaanse Skolewet se oogmerk dat gemeenskappe en ouers deur middel van beheerliggame, skole in die beste belang van die leerders sal bestuur.
Solidariteit beskou die deelname aan openbare prosesse as uiters belangrik en van kardinale belang in sy stryd vir reg en geregtigheid binne die openbare onderwyssektor.
“Die regering poog kliphard om ons skole te kaap. Ons mag doodeenvoudig nie staan en toekyk nie. Hulle ignoreer met opset die mees toonaangewende navorsing oor die belangrikheid van moedertaalonderrig omdat hulle blindelingse vyandigheid teenoor ʼn minderheid eerder wil laat seëvier. Die regering is magsbehep. Hy wil ons op elke vlak beheer; nou selfs deur ons kinders en skole. Ons kan die kaping van skole doodeenvoudig nie duld nie en sal nie skroom om voort te gaan met regstappe indien hy teen alle advies deurdruk nie. Die toekoms van ons kinders is in ons hande en ons skole bly gemeenskapsbesit,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



