SAPD vra Krugersdorp-verkragtingslagoffers verskoning vir vrystelling van persoonlike inligting

Deel hierdie storie / Share this story

Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het die slagoffers van die Krugersdorp-aanval, waar agt vroue in Julie 2022 verkrag is, ‘n openbare verskoning aangebied.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die verskoning van die SAPD volg op die publieke vrystelling van persoonlike inligting van agt vroue wat hul name en vanne, ouderdom en fisiese adresse ingesluit het.

Ná die voorval het die nasionale kommissaris ‘n interne departementele ondersoek na die aangeleentheid gelas.

Die ondersoek is uitgevoer en afgehandel. Die finale verslag het bevind dat die persoonlike inligting van slagoffers inderdaad onvanpas vrygestel is, maar sonder kwade bedoelings. Dit regverdig egter steeds nie die deel van sulke inligting nie.

Die inligting wat op verskeie interne What’sApp-platforma van die SAPD gedeel is, het probeer om net al die nodige rolspelers en hulpbronne te mobiliseer in ‘n poging om diegene wat verantwoordelik is vir hierdie gruwelike misdaad vas te trek.

Tydens die proses om die verdagtes op te spoor, is die SAPD-bestuur van Gauteng, die betrokke distrik, stasies en eenhede van die misdaad in kennis gestel en versoek om hulpbronne te mobiliseer om die verdagtes op te spoor.

What’sApp-boodskappe is gebruik om te kommunikeer weens die dringendheid om die verdagtes op te spoor.

Ongelukkig is persoonlike inligting van genoemde slagoffers in die What’sApp-boodskappe op SAPD se What’sApp-groepe bekend gemaak, wat sy weg na sosiale media gevind het. Die SAPD betreur die bekendmaking van sulke persoonlike inligting en vra die slagoffers van die verskriklike misdade om verskoning vir die privaatheidskending en die swaarkry wat as gevolg daarvan veroorsaak is.

Die SAPD-bestuur gaan voort om voorskrifte uit te reik en interne bewusmakingsveldtogte binne die SAPD te dryf in ‘n poging om ‘n herhaling van sodanige inligtingsbreuk te voorkom.

Die bestuur van die SAPD verseker almal in Suid-Afrika van sy verbintenis om aan die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting 4 van 2013 te voldoen.

“Namens die SAPD vra ek onvoorwaardelik om verskoning aan veral die slagoffers en hul families. Misdade teen vroue en kinders bly ‘n prioriteit vir lede van die SAPD en in die afgelope boekjaar is 386 lewenslange vonnisse opgelê aan oortreders van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GBVF-verwante misdade). Gedurende dieselfde tydperk is 17 481 verdgtes in hegtenis geneem vir sulke misdade,” het genl. Masemola gesê.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel