‘n Tweejarige kleuterseun is Sondag 30 April 2023 in Thabampshe-woonbuurt in Masemola-polisiëringsarea, Limpopo, vermoor.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê ‘n 55-jarige man het na bewering laat en besope by die huis aangekom. Hy het met sy niggie, wat die tweejarige se ma is, baklei.
Die verdagte het na bewering die kleuterseun gegryp en sy kop teen die vloer geslaan. Met sy aankoms by die hospitaal het die kind weens kopbeserings beswyk.
Hierdie is slegs een van die voorvalle wat maj. genl. Jan Scheepers, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris van Limpopo, bekommerd het omdat sake van huishoudelike geweld en boendoegereg besig is om toe te neem. Hy het onmiddellike ondersoek na hierdie sake beveel.
Sy bekommernisse spruit daaruit dat hierdie dade tot gevolg gehad het dat slagoffers op die mees grusame maniere hul lewens verloor het. Ook is die lewens van verdagtes wat vermoedelik misdade gepleeg het deur vigilante optrede geneem.
Betty Nurse Hlabela (58) is Saterdag 29 April 2023 omstreeks 13:00 dood by haar huis in Moletlane buite Zebediela gevind. Haar liggaam was onherkenbaar verbrand.
Volgens kol. Ledwaba is haar liggaam binne-in ‘n bad gevind.
Die polisie het ‘n saak van moord geopen en ‘n 34-jarige verdagte is in hegtenis geneem nadat hy positief met die voorval verbind is.
In nog ‘n voorval wat op dieselfde dag plaasgevind het, is ‘n 30-jarige vrou in hegtenis geneem nadat sy na bewering haar lewensmaat (29) in Elandskraal in ‘n oënskynlike geval van gesinsgeweld gesteek en vermoor het.
Verskeie gevalle van vigilantisme is regoor die provinsie aangemeld. Die polisie is steeds na die verdagtes in hierdie sake op soek.
‘n Onbekende man is Sondag 30 April 2023 omstreeks 19:00 by Mashau Thondoni buite Levubu deur gemeenskapslede aangerand. Sy liggaam is daarna verbrand. Hy is daarvan beskuldig dat hy glo misdade in die gebied gepleeg het.
‘n Sakeman (36) is Saterdag 29 April 2023 in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n 26-jarige man by ‘n taverne doodgeskiet het. Die woedende gemeenskap het na bewering twee spazawinkels, ‘n taverne en drie voertuie aan die brand gesteek. Die Giyani-polisie ondersoek ‘n saak van moord, brandstigting en opsetlike saakbeskadiging. Die sakeman van 36 jaar oud is intussen van moord aangekla.
Die verdagtes sal na verwagting mettertyd in die onderskeie landdroshowe verskyn.
“Daar is hoegenaamd geen regverdiging vir dade van boendoegereg deur lede van die gemeenskappe nie en dieselfde geld vir plegers van geslagsgebaseerde geweld. Persone wat hulle aan sulke misdade skuldig maak, sal deur die volle mag van die wet in die gesig gestaar word,” het maj. genl. Scheepers afgesluit.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes wat by die voorvalle van boendoegereg betrokke is om die naaste polisiestasie te kontak of die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te skakel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



