Man en vrou in bloedplas gevind

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Man (42) en sy vrou (34) is gisteroggend, Maandag 1 Mei 2023 voor 09:00 in ‘n bloedplas gevind. Die voorval het op ‘n plaas Kromdraai, in die Platrand-area, Standerton-distrik, Mpumalanga, waar die man werk en bly, plaasgevind. Beide het skietwonde gehad.

Kasselman Sekuriteit sê die vrou is op die toneel oorlede, maar die man is in ‘n kritieke toestand in Standerton-hospitaal opgeneem. Hy is vanoggend in die vroeë oggendure in die hospitaal oorlede.

Hy sou met ‘n Rocket-helikopter vervoer word, maar die lae wolke het dit nie toegelaat nie, waarna hy met ‘n ambulans na ‘n hospitaal geneem is.

Die man het as ‘n stroper-drywer op die plaas gewerk.

FiND iT het met die man se broer gepraat wat die situasie as baie moeilik bestempel het.

Die motief vorm deel van ‘n ondersoek, alhoewel FiND iT verneem het dat daar twee briewe op die toneel agtergelaat is.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het ‘n verklaring uitgereik waarin hy sê daar word geglo dat die voorval as gevolg van ‘n misverstand tussen ‘n man en sy vrou was.

Die man het volgens inligting sy vrou, wat op die plaas Ebeneser woon, Sondagaand 30 April na sy huis genooi.

Die familie kon hulle glo nie op selfone bereik nie, waarna hul na die twee begin soek het. Inligting is oorgedra dat skote van die paartjie se plek gehoor kon word.

Met ondersoek is die paartjie omstreeks 08:00 in ‘n plas bloed op die kombuisvloer van die man se huis gevind.

‘n Vuurwapen met vyftien lewendige rondtes en drie leë patroondoppies is langs die paartjie gevind.

Die vrou is deur paramedici op die toneel dood verklaar en die man is na ‘n hospitaal gehaas waar hy Dinsdagoggend oorlede is. ‘n Moord en geregtelike doodsondersoek is geregistreer en word ondersoek.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het versoek dat gemeenskapslede wat gesinsprobleme ondervind, moet praat sodat reëlings vir professionele hulp gemaak kan word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel