Solidariteit sal Regspraktisynsraad hof toe sleep oor ‘diskriminasie’

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het vandag die Regspraktisynsraad in die Wes-Kaap en nasionaal met regstappe gedreig indien hulle nie ’n aansoek vir aanstelling deur die voorsitter van die Raad, waarin slegs “swart, bruin en Indiese vrouens” uitgenooi word om aansoek te doen, terugtrek nie.

Volgens Solidariteit kom die optrede van die Raad op blatante diskriminasie neer en is dit afskuwelik dat ’n liggaam wat juis regslui verteenwoordig, so ’n miskenning van die Grondwet sowel as die reg op gelykheid pleeg.

“Die Regspraktisynsraad is juis veronderstel om homself bo sulke optrede te stel, om diegene verantwoordelik vir die skending van regte in die beroep verantwoordelik te hou en die standaard vir optrede daar te stel. Hulle is nou besig om die teenoorgestelde te doen,” meen Riaan Visser, hoof van die Solidariteit Regsnetwerk. “Op die oog af lyk dit asof die Raad in die Wes-Kaap eerste- en tweedeklasregspraktisyns wil skep. Die aansoeke is vir aanstellings as arbiters, mediators, onafhanklike kenners en likwidateurs wat in die Raad se databasis sal verskyn. Terwyl aanstellings op grond van ras plaasvind, kan ʼn mens net wonder of die databasis dan ook op so ʼn wyse gerangskik sal word.”

Solidariteit vereis dat die Raad onder andere op ’n dringende basis ’n verduideliking verskaf rakende die besluit om die aansoeke op ras te baseer. Solidariteit voer aan dat daar ’n toenemende tendens is om harde diskriminasie onder die vaandel van sogenaamde transformasie te regverdig sonder enige behoorlike rasionaal daarvoor.

“Dit is noodsaaklik om uitsluitings soos in hierdie geval om elke hoek en draai te betwis en dit op die strengste wyse moontlik in die oë van die reg te toets. Indien ons nie teen 2 Mei 2023 van die Raad af terugvoer ontvang nie, en nog meer, indien die antwoorde op ons vrae nie as bevredigend beskou word nie, sal ons met regstellende stappe voortgaan.  Uitsluiting op grond van ras en geslag is verkeerd, en dit is skreiend dat dit vir ons nodig om die Regspraktisynsraad hieraan te herinner,” sluit Visser af.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel