Kyk: Ernstig beseerde stapper in uitdagende reddingsoperasie met helikopter gered

Deel hierdie storie / Share this story

Video van reddingsoperasie in die berig.

Die NSRI van die Oos-Kaap het Saterdag 22 April 2023 om 14:14 ‘n oefening gestop om ‘n vrou wat op die Otter-staproete in die Tsitsikama beserings opgedoen het, te red.

Die NSRI was by die Stormsriviermond in Tsitsikama besig, wat die NSRI van Oesterbaai, Eersterivier, Stormsrivier, Gariep, St. Francisbaai, Jeffreysbaai, en Nasionale Parke ingesluit het.

Die vroulike stapper van Johannesburg is ernstig op die Otter-staproete naby die kuslyn beseer. Die groep wat saam met haar gestap het, het eers by haar gewag, maar moes as gevolg van mistoestande wat ontwikkel het, haar alleen laat en haas om die volgende kamp te bereik.

Die NSRI het onmiddellik vier reddingsbote na die toneel, wat 14 km vanaf die Stormsriviermond in ‘n westelike rigting en naby die kuslyn geleë is, gestuur.

Die rowwe see met deinings van 4 tot 5 meter het dit onmoontlik gemaak om reddingswemmers van die seekant af te ontplooi om die vrou te bereik.

‘n SA Nasionale Parke-veldvoertuig, beman deur veldwagters van die Tsitsikama- nasionale park en verbonde aan die NSRI, het van die land se kant probeer om met die redding te help.

Die landreddingspan het die naaste toegangspunt na die beseerde vrou bereik en het 4 km oor uitdagende gladde terrein wat skaars toeganklik is, met steil hellings, asook die mis wat ontwikkel het, beweeg om by haar uit te kom. Hulle kon daarin slaag om binne ‘n uur by haar te wees en is daarvoor geprys.

NSRI-bevelvoerders was deurentyd met haar deur middel van ‘n selfoon in kontak.

‘n Ander groep stappers op die roete het haar ligging bereik en is vir hul bystand bedank.

Toe NSRI-bemanning en die veldwagters die vrou bereik, was haar gemoed goed. Haar beserings is medies gestabiliseer.

Die Wes-Kaapse regeringsgesondheid EMS Metrobeheer het die EMS/AMS Skymed-reddingshelikopter geaktiveer, terwyl Private Care-amulansdienste ‘n ambulans na die Stormsriviermond-kampterrein gestuur het.

Paramedici is uit die reddingshelikopter tot op die toneel laat sak waarna hulle voortgegaan het om mediese behandeling toe te pas. ‘n Landingsone is by die Stormsriviermond-kampterrein ingerig.

Toe die beseerde gestabiliseer en in ‘n Stokes-mandjiedraagbaar vasgemaak is, het die helikoter na die toneel teruggekeer om haar na die kampterrein te vlieg. Van hier is sy in ‘n ernstig maar stabiele toestand in die ambulans oorgeplaas wat haar na ‘n hospitaal, waar sy aansterk, vervoer het.

Die NSRI prys alle betrokke partye vir hul vinnige en gekoördineerde reaksie tydens hierdie uitdagende reddingsoperasie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel