Solidariteit het Dinsdag die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) met regstappe gedreig indien dié instelling nie die verskil in toekennings van beurse en genootskappe op grond van ras kan regverdig nie. Dit volg ná die universiteit se departement vir gesondheidswetenskappe beurse en genootskappe geadverteer het wat verskillende waardes vir verskillende rasse daaraan gekoppel het.
Volgens Solidariteit lui die universiteit se advertensie dat beurse toegeken word aan “swart Suid-Afrikaanse burgers” vir meesters- en doktorale studie, onderskeidelik ter waarde van R120 000 en R60 000. In teenstelling hiermee is die beurse wat aan “ander Suid-Afrikaanse burgers” toegeken word slegs ter waarde van R80 000 en R45 000. Genootskappe by dié fakulteit word op soortgelyke wyse toegeken.
“Dit is onaanvaarbaar om in ʼn land soos Suid-Afrika, waar werkloosheid deurgaans toeneem, studente en jong mense te straf omdat hulle nie swart is nie. Dit gaan die verstand te bowe om te dink dat ʼn universiteit, ʼn instelling wat juis behoort te verstaan hoe belangrik hoër onderwys is, só kan redeneer,” meen Anton van der Bijl, adjunk-bestuurshoof van regsake by Solidariteit. “Asof dit nie genoeg is om beurse van verskillende waardes toe te ken op grond van ras nie, bied die fakulteit ook betaalde genootskappe aan waar verskillende salarisse vir verskillende rasse sal geld – nie op grond van nood of sosio-ekonomiese omstandighede nie, maar bloot op grond van velkleur.”
Volgens Solidariteit word post-doktorale genootskappe deur die UKZN geadverteer, met ʼn jaarlikse salaris van R320 000 vir “swart Afrikaners,” terwyl “ander Suid-Afrikaners” wat in dieselfde pos aangestel word, slegs R280 000 per jaar sal verdien.
“Die universiteit voer hierdie onbillike diskriminasie selfs verder deur te probeer om selfs salarisse op grond van ras bepaal. Solidariteit se regskrywe maak dit duidelik dat die universiteit met antwoorde na vore moet kom. Indien die universiteit nie bevredigende antwoorde voor 4 Mei 2023 lewer nie, sal ons hulle voor die hof daag en hulle dwing om regverdigheid aan die orde van die dag te stel,” sluit Van der Bijl af.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



