Legende van See en Sand, Sparks Esterhuysen, oorlede

Deel hierdie storie / Share this story

Die Nasionale See-en-Sand Instituut op Hermanus, het aangekondig Sparks Esterhuysen, sy stigter, oorlede is.

Sparks het geglo jongmense moenie oorgewig wees of op hulle ouers parasiteer nie. Hy het geglo in dissipline, deursettingsvermoë en dat jy nie die kampe sal oorleef as jy “middelmatig” is nie. Sparks se See-en-Sand-kampe was inderdaad “oorlewingskampe”.

Sparks is Dinsdagoggend in die ouderdom van 81 in ‘n aftreeoord op Hermanus oorlede.

See-en-Sand het in 2021 sy 50ste bestaansjaar gevier. Honderde lewensredders was deur Sparks se hande. Sparks se seun, Henk, het in 2010 die leisels by sy pa oorgeneem en bied steeds dié kampe suksesvol aan.

Sparks was ‘n omstrede karakter, wat leerlinge van die see geleer het. As jy ‘n lewensredderkursus by See-en-Sand gedoen het, moes jy in die yskoue water van Hermanus se Nuwe Hawe tot die Ou Hawe swem, Platbankie oorleef en by Dreunkrans afspring. As jy nie wou spring nie, het hy jou summier afgestamp. Hy was nie bang vir haaie nie en het geglo jy moet ‘n haai net op die neus boks.

Hy was baie in die moeilikheid, onder meer omdat hy glo seuns in sy fiksheidsgroepe “afgeknou” het. Hy het hom min daaraan gesteur en geglo soos die wyse Salomo in die Bybel oor ‘n pakslae praat, dat jy ‘n “laaitie kan bliksem”. Hy was ook ‘n voormalige onderwyser aan die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch.

Sparks is só deur voormalige studente onthou, wat boodskappe van medelye op See-en-Sand se sosiale media gelos het:

Mila van den Hoven: “Dankie vir al die wonderlike herinneringe wat Oom vir my gee het as kind…. Oom Sparks en See-en-Sand het my so veel geleer, nie net van die see nie maar van myself, van selfstandigheid en verantwoordelik wees vir ander mense en natuurlik van leierskap. Oom het n massiewe rol gespeel in wie ek vandag is en ek is Oom ewig dankbaar. Rus in Vrede Oom Sparks.”

Hermann Van Der Neut: “RIV Sparks. Een van die groot legendes. Dankie vir alles wat jy ons jeug geleer het. Sterkte Henk en die see en sand familie.”

Wade Theron: “Baie slegte nuus. Daar is so baie wat ons met verskillende geleenthede van hom geleer het. RIV Sparks! Sy legende sal voortleef. Sterkte vir die familie.”

Marie-Louise Pieterse: “Innige simpatie, hy was n groot gees in julle gemeenskap en menige kinders se lewens aangeraak🙏. RIP Sparks”

Toi Prinsloo: “Rus in Vrede Oom Sparky, die lewe het n merkwaardige mens verloor. Jy sal altyd n legend wees 🕊

Marlize Conradie: “What a legend, RIP oom Sparks, diep spore in baie mense se lewens getrap! Dankie vir als wat ons by jou kon leer! Was n voorreg om jou op die kampe te beleef. Sterkte familie!”

Sparks se gedenkdiens vind Saterdag om 11:00 in die Lewende Waters-familiekerk in De Goedestraat, Hermanus, plaas.