’n Man (44) sal na verwagting Donderdag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn ná hy Dinsdag in hegtenis geneem is in verband met Thabo Bester se ontsnapping.
Die verdagte, wat ‘n werknemer is by ‘n maatskappy wat kameras by die Mangaung- korrektiewe sentrum installeer en in stand hou, staan tereg op ‘n aanklag van hulp aan ‘n veroordeelde gevangene om uit wettige aanhouding te ontsnap, regsverydeling, sowel as die skending van ‘n dooie liggaam.
Intussen het Noordwes-polisie beslag gelê op ‘n wit Porsche Cayenne wat vermoedelik aan nog ‘n verdagte, dr. Nandipha Magudumana, Bester se metgesel, behoort.
Die voertuig is deur die Gauteng-polisie in Lichtenburg, Noordwes, op beslag gelê.
‘n Manlike bestuurder (28) is ook in polisie-aanhouding waar hy tans ondervra word.
Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sê die polisie is besig om diegene wat verantwoordelik is vir Thabo Bester se ontsnapping, vas te trek.
“Enigiemand wat weet dat hulle by hierdie saak betrokke is, word gewaarsku om hulself aan owerhede oor te gee. Óf hulle gee hulself oor óf ons gaan haal hulle self,” het genl.Masemola gesê.
Die polisieondersoek duur voort.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



