Pasgebore baba uit puttoilet gered – ma in hegtenis

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Ma (23) van Bosbokrand is Dinsdag 11 April 2023 te Matangaleni Trust, naby Mkhulu, Mpumalanga, vir poging tot moord van haar pasgebore babaseun in hegtenis geneem.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die ma van drie het na bewering gepoog om die baba se geboorte te versteek deur hom in ‘n puttoilet by haar mansvriend se huis te gooi.

Sy het glo die mansvriend vir ‘n eerste keer besoek nadat hy volgens inligting reëlings vir die ontmoeting getref het. Na bewering het sy die betrokke aand net voor middernag badkamer toe gegaan, waarna die babaseun glo gebore is. Daarna het sy glo die geboorte probeer wegsteek en die pasgebore baba in die puttoilet gegooi.

Die mansvriend, wat besef het wat gebeur het, het die polisie en mediese personeel ontbied, waarna die baba veilig uit die puttoilet gered is.

Die ma is in hegtenis geneem en saam met die babaseun vir mediese hulp na ‘n hospitaal geneem. Sy is vir poging tot moord aangekla en is tans onder polisiebewaking.

Die vrou sal na verwagting in die Mkhuhlu-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela het die insident sterk veroordeel en die publiek gemaan om van sielkundige en professionele dienste gebruik te maak indien hulle deur stresvolle lewenservaringe gaan sodat soortgelyke insidente voorkom kan word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel