Thabo Bester-arrestasie: Amptenare vertrek Sondag na Tanzanië

Deel hierdie storie / Share this story

Die minister van polisie en die minister van justisie en korrektiewe dienste het Saterdag bevestig dat Thabo Bester en sy medepligtige, dr. Nandipha Maguduma, laat Vrydagaand in Tanzanië in hegtenis geneem is.

Die nasionale kommissaris van die polisie, genl. Fannie Masemola, het op 26 Maart 2023 die prioritisering van ondersoeke na die Mangaung-gevangenis-ontsnappingsaak beveel.

Verskeie eenhede van die polisie in Gauteng en die Vrystaat is aangestel om 24 uur per dag aan hierdie ondersoek te werk.

’n Saak van moord word ondersoek na uitslae van DNA-toetse wat bevestig het dat die liggaam van die oorledene wat gevind is, nie van Thabo Bester was nie.

Die lykskouingsverslag het verder aan die lig gebring dat die oorledene gesterf het as gevolg van trauma aan die kop, en reeds dood was voor die brandstigting.

’n Saak van ontsnapping uit wettige aanhouding is ook geopen nadat die departement van korrektiewe dienste bevestig het dat Thabo Bester nie in hul aanhouding was nie.

‘n Amptelike afvaardiging van Suid-Afrika wat bestaan ​​uit senior amptenare van die polisie, justisie en korrektiewe dienste sal Sondag na Tanzanië vertrek.