DMO se besnoeiings ‘maak kwesbare Suid-Afrikaners grootste slagoffers’

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het vandag die besnoeiings aan befondsing vir nie-regeringsorganisasies (NRO’s) wat maatskaplike dienste verrig, ten strengste veroordeel. Dit volg ná aankondigings van die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) dat subsidies vanjaar anders aangewend sal word.

Volgens Solidariteit volg hierdie aankondiging op ʼn verdoemende verslag en parlementêre voorleggings deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), wat daarop dui dat die stand van sake by die DMO skokkend is.

“Die DMO is besig om die bestaan van NRO’s wat op maatskaplike ontwikkeling gefokus is, ernstig te bedreig. Die beoogde begrotingsbesnoeiings en die aandring op sentralisering van magte dui op ’n departement wat van die werklikheid ontkoppel is,” meen Bianca Smit, netwerkkoördineerder vir die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk. “Terwyl NRO’s probeer om diegene onder ons wat die minste het, te bemagtig, wil die departement dieselfde NRO’s wat die take verrig wat die DMO veronderstel is om te verrig, se befondsing besnoei.”

Solidariteit meen dat dit ʼn voorbeeld is van die magsvergrype waaraan die staat hom skuldig maak. Terwyl ʼn departement in duie stort, wil hulle meer verantwoordelikheid vir hulself toeëien sonder om oor die regte van die mense teenoor wie hulle ʼn verantwoordelikheid het, na te dink.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling het reeds in sy mandaat misluk. Deurslaggewende navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) beklemtoon dit. Nogtans beplan dieselfde departement om sy kapasiteit uit te brei deur NRO’s se kapasiteit te beperk,” meen Smit verder.

Solidariteit is voorts van mening dat die uitwerking van die beperkende besnoeiings van begrotings veel wyer gevoel sal word as net by die NRO’s waarop die besnoeiings gemik is.

“Terwyl Suid-Afrika ʼn maatskaplike krisis in die gesig staar wat oorheers word deur misdaad en vergrype, is die plan vanuit die staat se oogpunt om diegene wat ʼn bydrae tot verbetering maak, te versaak. Maatskaplike werkers en maatskaplike organisasies staan gemeenskappe by en dra by tot die samelewing, lankal nie meer te danke aan die DMO nie, maar ten spyte van dié departement,” sluit Smit af.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel