‘n Verdagte in die moordsaak van Carol Ann Magielies is Maandag 4 April 2023 deur Humewood-speurders in hegtenis geneem.
Magielies (49) is Sondagaand 2 April 2023 ongeveer 19:00 in St. George’s Park-area, Humewood, Gqeberha, Oos-Kaap, doodgeskiet.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg het gesê die oorledene, wat ‘n ontvangsdame by ‘n privaat hospitaal in St. George’s Park was, was na bewering op pad om ná werk in haar motor te klim.
Sy is deur ‘n verdagte genader wat haar eenkant toe gestoot het en verskeie skote op haar geskiet het.
Die verdagte het te voet gevlug, terwyl die oorledene na die hospitaal toe gehaas is, waar sy gesterf het.
Die motief vir die moord was onbekend.
Elgin Maghienda, Magielies se kêrel, se liggaam is Maandagoggend ongeveer 11:00 in ‘n beboste plek met ‘n skietwond in sy kop gevind. Hy was sedert Magielies se skietvoorval as ‘n verdagte in die saak gesoek omdat hy moontlik by die skietvoorval betrokke kon wees.
Op dieselfde dag wat sy liggaam in Marineweg, Summerstrand ontdek is, het s.sers. Ridwaan Baatjies inligting ontvang van ‘n bestuurder van ‘n Ford Icon wat na bewering ook by Magielies se moord betrokke was.
Ongeveer 14:00 is ‘n adres in Haighlaan in Kensington besoek waar ‘n man (35) in hegtenis geneem is as ‘n verdagte in Magielies se moord.
Hy is aangehou vir moord en het op 5 April 2023 in die Gqeberha-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



