Afgetrede joernalis vermoor tydens huisroof

Deel hierdie storie / Share this story

Jeremy Gordin (70) is Vrydag 31 Maart 2023 ongeveer 20:00 dood in sy huis in Parkview, Gauteng, aangetref.

Hy is ‘n afgetrede joernalis wat onder meer as redakteur betrokke was by The Star en Sunday Independent. Hy was in beheer van die Justice Project by die Universiteit van die Witwatersrand se School of Journalism en het die boek Zuma: A Biograpy, geskryf.

Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê ‘n klagte van moord en huisroof is geopen.

Sy familie, wat in Kaapstad was, het gesukkel om met hom in verbinding te tree, waarna hulle ‘n vriend gevra het om ondersoek in te stel. Met aankoms by die woning het sy die agterdeur gesluit met die sleutel in die deur, aan die buitekant gevind. Sy het die huis binnegegaan en dit geplunder aangetref.

Die oorledene is met beserings aan sy liggaam op die vloer gekry en die hele vertrek was met bloed bespat.

Die polisie is gekontak.

Voorlopige ondersoek het daarop gedui dat ‘n televisie en die oorledene se motor gesteel is.

‘n Mannejag na die skuldiges is onderweg, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Gordin word deur sy vrou Deborah en sy twee kinders, Jake en Nina, oorleef.

Enigiemand met inligting kan Stop Misdaad by 08600 10111 kontak of van die MySAPS-toepassing gebruik maak.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel