Altesaam 87 onwettige myners wat op 20 Oktober 2021 by skag 2 in Orkney, Noordwes, tydens ‘n polisie-operasie in hegtenis geneem is, is op 30 Maart 2023 in die Stilfontein-streekhof tot altesaam 696 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Kapt. Tlangelani Rikhoto, woordvoerder vir die polisie se ondersoekeenheid vir prioriteitsmisdaad en Henry Mamothame, streekwoordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag in Noordwes, het ‘n gesamentlike verklaring uitgereik.
Op die dag van die inhegtenisnemings het ‘n intelligensie-gedrewe operasie onder leiding vn die Valke, wat deur die spesiale taakmag bygestaan was, plaasgevind.
Die operasie is na maandelange waarneming uitgevoer, sedert die onwettige myners die dormante skag oorgeneem het.
Tydens die operasie het ‘n oor-en-weer-skietery ontstaan waarin ses onwettige myners noodlottig gewond en agt beseer is.
Beslag is gelê op onwettige myntoerusting, gouddraende materiaal, twee minibusse, elf vuurwapens wat drie haelgewere, vier pistole, drie gewere en een rewolwer insluit, asook ongeveer 4 000 rondtes ammunisie en sakke kos.
Al die beskuldigdes wat sedertdien in aanhouding was, het skuldig gepleit op klagtes van roof met verswarende omstandighede, waarvoor elk tot agt jaar direkte tronkstraf gevonnis is.
Maj.genl. Patrick Mbotho, die provinsiale hoof vir die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke, en dr. Rachel Makhari-Sekhaolelo, het die voortreflike, onverpoosde werk van die gesamentlike eenhede geprys.
Adv. Chris Kok van die nasionale vervolgingsgesag is ook vir sy uitstaande werk en toegewydheid geprys.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



