Die oud-prokureur Peet Viljoen van Die Real Housewives van Pretoria dagvaar nou ‘n joernalis van die joernalistiekprogram Carte Blanche vir R20 miljoen.
Viljoen het die nuus van die dagvaardiging Sondagaand in ‘n onderhoud op Kwêla bekendgemaak en dit Donderdag self aan FiND iT bevestig.
“Ons dagvaar die joernalis Kate Barry wat onafhanklik inhoud verkoop aan Carte Blanche,” sê Viljoen.
“Sy teister vir Mel en ons handelsmerk. Sy verdraai die waarheid in ‘n persoonlike vendetta en ek het haar telkemale uitgevang dat sy nuus maak en nie bloot berig nie.”
Barry het glo ‘n stelling gemaak toe polisiebeamptes in 2022 ‘n beskermingsbevel teen haar beteken het.
Met die oorhandiging van ‘n hofdokument het Barry volgens Viljoen aan die polisie gesê dat Peet en Mel glo die polisie betaal het om haar te intimideer.
“Die kruks van Mel se eis teen Kate is dat sy in die bogenoemde video die strafregtelike daad van laster pleeg deur te beweer dat ek en Mel die SAPD-lede betaal het om die hofdokument aan haar te beteken. In haar weergawe wat sy laat uitsaai het op Carte Blanche, het sy die video geredigeer om te sê dat Mel moontlik die SAPD-lede betaal het.”
Viljoen sê egter dat die proses op die regte manier gevolg is. “Die ware feite is dat die proses behoorlik gevolg is, en dat die saak voortduur in die teisterhof in Pretoria. As die proses enigsins onbehoorlik beteken is, sou Webber Wentzel se sewe prokureurs wat Kate Barry verteenwoordig, die saak kon laat uitgooi.”
Verder sê Viljoen dat Tammy Taylor Nails alle geld wat in die hof aan hulle toegeken word, aan ‘n liefdadigheidsorganisasie wat met hawelose vroue en kinders werk, sal skenk.
FiND iT het Kate Barry deur Carte Blanche kommentaar gevra oor die beweringe en die dagvaardiging, en wag nog vir terugvoer.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



