Donovan Moodley, Leigh Matthews se moordenaar, is Woensdag parool geweier.
Leigh Matthews (21) is in Julie 2004 deur Donovan Moodley (24) ontvoer en vermoor. Haar verdwyning en moord het destyds hoofopskrifte in koerante gehaal. Woensdag, 19 jaar na die grusame moord, is Moodley vir ‘n tweede keer parool geweier.
Leigh is op Vrydag 9 Julie 2004 in die parkeerterrein by die Bond-universiteit in Sandton, Johannesburg, ontvoer. Kort ná die ontvoering is ’n losprys van R50 000 van haar pa geëis, wat dit naby die Grasmere-tolplaza suid van Johannesburg afgelaai het.
Hy het toe ‘n kort telefoongesprek met Leigh gevoer. Dit was dié pa en dogter se laaste woorde aan mekaar. Op 21 Julie 2004 is Leigh se liggaam deur ‘n munisipale werker wat gras in die oop veld langs die R82-hoofweg in Walkerville, suid van Johannesburg, gesny het, ontdek. Sy is vier keer geskiet. Alhoewel sy nakend gevind is, is sy nie seksueel aangerand nie.
Op 4 Oktober 2004 het die polisie Donovan Moodley, wat ook ‘n student aan die Bond-universiteit was, gearresteer. Hy is van moord, ontvoering en afpersing aangekla. Op 25 Julie 2005 het hy in die Johannesburgse hooggeregshof skuld beken op al drie aanklagte.
Moodley is lewenslange tronkstraf opgelê vir moord, 15 jaar vir ontvoering en tien jaar vir afpersing. Hy het sy lewenslange tronkstraf op 4 Augustus 2005 begin uitdien.
In Januarie 2022 is Moodley parool geweier, maar het daarin geslaag om daardie besluit deur die Gautengse hooggeregshof in Johannesburg tersyde te laat stel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



