Vrou wat glo lieg oor baba en ontvoering vas vir regsverydeling

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vrou (29) is Vrydag 24 Maart 2023 vir beweerde regsverydeling in hegtenis geneem en aangekla vir die rapportering van ‘n vals saak van kinderontvoering.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die vrou het na bewering gerapporteer dat sy Vrydagaand ‘n motor gehuur het waarin sy en haar vyf dae oue baba op pad was na die pa se huis. Na bewering het ‘n voertuig op Khakhamapad die voertuig waarin hulle was, voorgekeer. Sy is glo beveel om met die baba uit te klim en die voertuigbestuurder moes wegry.

Hierna is sy na bewering deur twee verdagtes tot by nabygeleë bosse geneem waar sy beveel is om die baba se pa te bel en R5 000 te eis wat hy hulle glo skuld.

Die vrou het ook gesê die verdagtes het haar glo met ‘n vuurwapen geslaan voordat hulle met die baba gevlug het.

Tydens die polisie-ondersoek is gevind die vrou het glo gelieg dat sy ‘n baba gehad het. Sy het glo ook die storie oor die ontvoering versin.

Sy het glo die plan gemaak om haar kêrel se familie te laat glo dat sy geboorte geskenk het aan ‘n kind, dit sou haar posisie as skoondogter in die familie verseker.

Sy het Maandag 27 Maart 2023 in die Sawoti-landdroshof verskyn.

Die saak is tot 6 April 2023 uitgestel.

Sy bly in aanhouding.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel