
Gawie Marx, motorwerktuigkundige en eienaar van die Total-vulstasie op Morgenzon in Mpumalanga is dood en Mary-Anne Marx, sy vrou, is beseer tydens ‘n aanval in hul woning op Vrydag 24 Maart 2023 vanaf 19:00.
Hul woning, vulstasie en werkswinkel is aan mekaar gebou.
Kasselman Security Services het 01:04 ‘n paniek-alarm ontvang en was om 01:14 op die toneel. Reaksiebeamptes het die vrou steeds met toue vasgebind gevind.
Die egpaar het glo Vrydag 24 Maart ongeveer 19:00 van Ermelo na hul huis op Morgenzon teruggekeer. Hulle is na bewering deur vier onbekende verdagtes wat hulle binne hul woning ingewag het, oorval. Toegang is deur die kombuisvenster, waarvan die diefwering oopgebuig was, verkry.
Die egpaar is na verskillende vertrekke in die huis geneem en vasgemaak. Hierna het die aanval op die man voortgeduur, waarna die verdagtes die toneel verlaat het.
Teen 01:00 kon die vrou, wat aan pype in die badkamer vasgemaak was, daarin slaag om haarself te bevry en sy het die alarmstelsel in die vulstasie, wat met Kasselman Security Services gekoppel is, gaan aktiveer.
Gawie Marx het aan sy beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar.
Juwele, vuurwapens en kontant is glo deur die vermeende verdagtes gebuit. Forensiese deskundiges en die polisie het die toneel gefynkam vir bewysstukke. ‘n Nagemaakte speelgoedpistool is deur die verdagtes op die toneel agtergelaat.
Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie.
Kasselman Security Services het ‘n beloning van R20 000 uitgereik vir inligting wat tot positiewe inhegtenisnemings in die saak lei.
“Hierdie hele dorp is in rou. Almal het die oom en tannie geken.”
FiND iT het twee provinsiale woordvoerders vir Mpumalanga vir kommentaar gevra.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



