Vier jaar ná die gru-aanval by ‘n woonstel in St Luciahof wat die dood van Faghmie Valentine, ‘n 21-jarige man van Hanover Park veroorsaak het, het sy moordenaar tronkstraf gekry.
Gershwin Benjamin is Woensdag in die Wynberg-streekhof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. In Februarie 2019 het die oorledene en sy neef Benjamin se suster besoek.
Die Dollar Kids-bendelid het ingestap en op die niksvermoedende slagoffer losgebrand. Die koeëls het hom in die kop en nek getref en hy is op die toneel dood.
Twee dae ná die voorval het lede van die polisie Benjamin in hegtenis geneem en die Hanover Park-gemeenskap het teen hom saamgetrek, insluitend sy eie familielede wat in die hof getuig het, sê Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder. Hy is borgtog geweier en het vir die duur van die verhoor in aanhouding gebly.
Te danke aan die samewerking van die gemeenskap en die vasberadenheid van die ondersoekbeampte en die vervolgingspan, is Benjamin skuldig bevind en tot 15 jaar gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



