Opname in berig!
‘n Stem-opname van gister se twee grusame verbyryskietvoorvalle in Tongaat, KwaZulu-Natal, is vrygestel.
Vyf persone is gistermiddag in ‘n verbyryskietery dood, terwyl nog ‘n man en vrou beseer is.
Reaction Unit South Africa sê hoëkalibervuurwapens is op beide tonele gebruik.
Die inbelsentrum het 32 oproepe ontvang vir hulp op die tonele.
‘n Verkorte weergawe van een van die opnames is vrygestel waarin reaksie-offisiere rugsteun vra, asook vir ‘n helikopter en paramedici.
Aangesien ander opnames wat per radio en telefonies plaasgevind het te sensitief van aard is, kan dit nie aan die publiek vrygestel word nie.
Reaction Unit South Africa se reaksie-offisiere het hulle gistermiddag na die oproepe vir hulp, om 13:16, na die Golden Sun Supermarket op Gopalall Hurbanspad in Tongaat, KwaZulu-Natal, gehaas.
Met aankoms op die toneel het hulle ‘n stilstaande wit VW Polo met koeëlgate gevind. Twee manspersone in die voertuig het verskeie skietwonde opgedoen en is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
‘n Vroulike passasier is vir ‘n besering aan haar kop behandel.
Volgens Reaction Unit South Africa blyk dit asof hulle vir iemand anders aangesien is, maar dit kon nie onmiddellik bevesig word nie.
‘n Tweede span reaksie-offisiere is na ‘n toneel op die R614 en Gopalall Hurbanspad-interseksie in Fairbreeze gestuur, wat ongeveer vier kilometer van die eerste toneel is.
Met aankoms op die toneel is ‘n wit Ford Ranger-bakkie by die verkeersligte gevind. Daar is ook verskeie gate van hoëkaliber-koeëls in die voertuig se bakwerk gevind. Drie insittendes was noodlottig gewond en in besit van hoëkaliber-wapens. Al drie is positief geïdentifiseer as sekuriteitsoffisiere.
Terwyl lede op die toneel besig was, het ‘n wit Mercedes Benz op die toneel aangekom en is daar gesê dat een van die insittendes in die voertuig geskiet is. Daar is bevestig dat een, ‘n taxibaas, na bewering die teiken van ‘n sluipmoord was. Sy passasier was ‘n sekuriteitsbeampte vir sy persoonlike veiligheid. Hulle het glo in ‘n wit Toyota Corolla gery toe gewapende mans op hulle geskiet het. Die taxibaas het sy voertuig op die R614 gelaat. Die beseerde sekuriteitsbeampte is vir ‘n skietwond aan sy hand behandel.
‘n Lugsoektog is met die Rusa-helikopter na die verdagtes geloods.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



