Familie soek antwoorde na vrou in ‘nagmerrieondervinding’ in staatshospitaal sterf

Deel hierdie storie / Share this story

Nadat Marisca van der Merwe (22) wat Vrydag 10 Maart 2023 in ‘n staatshospitaal in Emalahleni in Mpumalanga gesterf en haar man en drie maande oue babadogter agtergelaat het, se familie soek antwoorde.

Bernice Fourie sê aan FiND iT Van der Merwe is haar suster se dogter en dat al hul vrae aan die departement van gesondheid tot dusver op dowe ore geval het.

Fourie sê staatshospitale het hulle gefaal.

“Ons soek geregtigheid.”

Marisca van der Merwe was nie deur ‘n mediese fonds gedek nie en van staatgesondheidsdienste afhanklik.

Fourie sê in Desember 2022 het Van der Merwe ‘n keisersnit in Bethal-staatshospitaal in Mpumalanga ondergaan na sy reeds 36 uur in kraam en was net twee cm ontsluit.

Na die geboorte het Van der Merwe se wond ontsteek, waarop sy antibiotika ontvang het en soutwater om dit skoon te maak. Sy het die wond volgens aanwysings behandel.

Ongeveer middel Februarie het Van der Merwe erge naarheid en pyn op haar maag ondervind. Sy het siek gevoel met ‘n verkoue waarvoor sy medikasie ontvang het. Sy het sieker geword en is deur haar ma na Evander-staatshospitaal gehaas.

Daar is vir hulle gesê: “We can’t help her, there is other patients sicker than her, go to the clinic on Monday and they will refer her to us if necessary.”

Van der Merwe is hierna na ‘n privaat dokter geneem, wat gesê het sy het depressie en anti-depressante is voorgeskryf.

“Sy het my hierna gebel en gesê dat sy naar is en dit voel asof haar keel toetrek. Sy het gesukkel om asem te haal wanneer sy lê.”

Haar neef het op ‘n Sondag gery om haar in Secunda te gaan haal. Daardie aand het nog ‘n staatshospitaal haar gefaal. Sy het na 21:00 die aand nog in ‘n ry vir hulp by die hospitaal gewag. Sy kon nie sit nie, omdat sy baie slapering en naar was.

“Sy het gevra om huis toe te gaan omdat sy nie kon sit nie. Daar was geen beddens nie, orals was bloed op die vloere, urine, dit was nag, mense het op die vloere en bankies gelê asof in ‘n nagmerrie. Dokters met geen respek nie het grappe gemaak en pasiënte bespreek en vir hulle gelag. Dit was meestal studente wat nie eers weet hoe om drups op te sit nie.”

Hulle is toe huis toe.

Die Maandagoggend 6 Maart 2023 is Van der Merwe weer na ‘n privaat dokter geneem wat haar vir ‘n week drie keer per dag gehelp het en die familie spreek hul dankbaarheid teenoor hom uit.

Teen Donderdag 9 Maart het sy egter ‘n terugslag beleef en die dokter het haar dadelik in die staatshospitaal laat opneem.

“By Witbank-hospitaal is sy net ‘n drup opgesit en medikasie vir pyn gespuit.”

Sy het volgens haar tannie bly slaap en gesê dat sy moeg is en dat sy nie asem kry nie.

“Ek het van 09:00 af by haar gesit, daar is omtrent agt buise bloed getrek. Haar arms was potblou van al die gesukkel.”

Fourie het kort-kort gevra of die bloedtoetse se uitslae al beskikbaar was.

“Neem in ag dat die privaat dokter ook bloed laat trek het by Ampath en die uitslae aan die staatshospitaal voorsien is, waarop daar gesê is dat sy chroniese nier-en-lewerversaking het. Die verslag is in haar lêer geplaas en daar is nie aandag aan gegee of sy dadelik op dringende behandeling gesit nie.”

“Sy is ongeveer 16:00 vir X-strale geneem waarna ‘n ongeskikte dokter vir ons gesê het dat haar hart vergroot is, haar longe vog op het en dat van die toetse nierversaking wys, maar dat sy nie op dialise gesit kan word alvorens al die ander bloedtoetse se uitslae beskikbaar is nie.”

Fourie het buite gesit en wag en sê sy het kort-kort vir die uitslae gevra.

“Die Vrydagoggend ongeveer 02:30 is sy op suurstof gesit en ingespuit. Ons is gesê om uit te gaan omdat niemand meer toegelaat word nie, waarna die sekuriteitshek gesluit en die gordyne om haar bed toegemaak is. “Ons was skaars by die huis toe die telefoon lui en hulle vir ons sê om terug te kom. “Hulle het my sussie en haar man in ‘n kantoortjie laat ingaan. Ek het sommer geweet en na ‘n kamertjie gehardloop waar hulle oorledenes instoot.”

“Hier het ons pragdogter sonder ‘n draad van die klere, wat sy aangehad het voordat ons die hospitaal nie lank terug nie, verlaat het, gelê. Haar onderklere was ook uitgetrek en in die kussingsloop gedruk.”

“Sy was opgeblaas en haar hande inmekaargetrek.”

“Ek het geskree: ‘Asseblief Here, hoekom, hoekom sy?’ Daar was geen tekens dat sy ander hulp ontvang het terwyl sy daar gelê het nie.”

“Haar bloeduitslae was nog steeds nie beskikbaar nie.”

“Sy kon steeds geleef het as sy gehelp was.”

Die familie is die Vrydagoggend 08:00 terug hospitaal toe om dokumente te teken, maar is glo die uitslae geweier.

“Die dokter aan diens het net gesê sy mag dit nie vir ons gee nie. Ek was verby myself en het gepleit sonder dat daar enige antwoord sal wees vir haar baba wat sonder ‘n mamma gaan grootword en haar man met wie sy in Januarie ‘n eerste huweliksherdenking gevier het.”

“My suster en haar man is stukkend.”

“Hulle het nie eers respek gehad toe die begrafnisondernemer haar gaan haal het nie. Susters het hul tekkies aangetrek en rondgehandloop terwyl hulle lag en skree en sê hulle moet gaan. Dit was met die staking. Hulle het al die pasiënte net so gelos.”

“Dit was emosioneel harverskeurend verby en spook by my. Ek sukkel om te slaap en te eet. Ek weet nie hoe ons hierdeur gaan kom nie.”

Fourie sê aan FiND iT dat ‘n privaat patologiese ondersoek met die oog op kriminele vervolging nie gedoen kan word nie, omdat daar reeds ‘n doodsertifikaat uitgereik is wat sê dat Van der Merwe aan natuurlike oorsake oorlede is.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel